|

Verhoor teen Gautengse adjunkspeaker uiteindelik aan die gang

Sers. Lizzie Mojapelo, ’n beampte van die polisie se beskermings-en-sekuriteitsdienste, het haar beweerde aanranding deur die Gautengse adjunkspeaker, Vuyo Mhlakaza-Manamela, beskryf. Die sersant beskuldig die politikus daarvan dat sy haar in ’n dronk woedebui met vuishoue aangeval en oor stoele gestamp het – wat gelei het tot beserings wat haar byna die lewe van haar ongebore baba gekos het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondersteun Mojapelo, nadat die staat aanvanklik geweier het om die saak te vervolg. Mhlakaza-Manamela het vandag skuld ontken op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en crimen injuria.

Mojapelo het onthou dat Mhlakaza-Manamela die oggend van die voorval saam met haar man, adjunkminister van hoër onderwys, Bhuti Manamela, by die huis aangekom het. Mojapelo beweer Mhlakaza-Manamela was onvas op haar voete en het twee bottels alkohol by haar gehad. Kort ná haar aankoms, het ’n woordewisseling ontstaan, sê die sersant.

Die hof het Mojapelo gevra om te demonstreer wat gebeur het. Sy het getuig: “Terwyl ek na [die] waghuis gestap het, het mev. Manamela vinnig na die ingang toe gegaan en my vehinder om in te gaan. Sy het teen [die] waghuis geslaan en gesê dat dit ook haar eiendom is. Sy het my toegang daartoe versper. Mev Manamela het rondgestrompel en kon nie haarself tot bedaring bring nie. Ek het daarin geslaag om om haar te beweeg om by die waghuis in te kom,” het sy gesê.

Mojapelo het haar hande in vuiste gebal om aan die hof te demonstreer wat sy beweer volgende gebeur het. “Ek het gevoel hoe iets my op my rug slaan toe ek by die waghuis ingekom het. Ek het omgedraai terwyl mev Manamela aanhou om my op my gesig aan te rand. In reaksie het ek gesê jy maak my seer. Sy het my weer aangerand,” het Mojapelo gesê.

Die sersant het getuig dat sy oor stoele gestamp en verder aangerand is terwyl sy op die vloer was. Sy beweer op daardie stadium het Bhuti Manamela die waghuis binnegegaan en sy vrou van haar afgetrek.

Mojapelo is by die adres opgelaai nadat sy haar meerderes om hulp ontbied het. Sy het drie afsonderlike verslae oor die voorval gemaak – in die voorvalleboek by die Manamela-huis, by die polisie se beheerpunt en in haar eie polisie-notaboek.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê hulle is verlig die saak het uiteindelik begin en dat Mojapelo die geleentheid gehad het om haar storie aan ’n hof te vertel. “Lizzie het baie struikelblokke oorkom om hierdie punt te bereik en ons is bly dat ons haar gehelp het om daardie probleme te navigeer. Ons glo sy is ’n sterk getuie. Maar belangriker nog, sy is ook ’n ywerige polisiebeampte wat dadelik die voorval in die voorvalleboek by die huis van die beskuldigde en in haar eie polisie-notaboek gedokumenteer het. Ons bly teleurgesteld, maar nie verbaas nie, dat die Nasionale Vervolgingsgesag aanvanklik geweier het om te vervolg en ’n ommekeer gemaak het ná ons betrokkenheid. Die eenheid bly daartoe verbind om selektiewe vervolging en gevalle waar verdagtes beskerm word weens hul politieke status uit te daag,” het Bateman gesê.

Die saak gaan môre, 14 Desember 2022, voort.

Agtergrond

Die beweerde aanranding het in Februarie 2020 by die huis van Mhlakaza-Manamela en haar man, Bhuti Manamela, adjunkminister van hoër onderwys, plaasgevind. Mojapelo beweer die verdagte het haar in ’n dronk woedebui erg aangerand. Sy sê verder dat haar polisiehoofde haar nie wou help om ’n saak te open nie, maar eerder alles in hul vermoë gedoen het om daardie pogings te ontwrig.

’n Mediese ondersoek het bevestig dat Mojapelo veelvuldige beserings opgedoen het, en ook bevestig sy was toe 11 weke swanger. Sy het vaginale bloeding opgedoen en moes vrugbaarheidsbehandeling ontvang om te verseker dat haar swangerskap nie beëindig word nie.

Mojapelo, as ’n ywerige en pligsgetroue polisiebeampte, het besonderhede van die beweerde aanranding by elke stap van die proses gedokumenteer – van die voorvalleboek op die toneel van die misdaad tot die saamstel van aantekeninge van haar interaksies met aanklaers en ondersoekers. Ten spyte van die prima facie-getuienis teen Mhlakaza-Manamela, het die Nasionale Vervolgingsgesag geweier om die saak voort te sit.

Soortgelyke plasings