|

Verslag onthul skokkende werklikheid oor honger onder kleuters

Sowat 31% van kinders op Solidariteit Helpende Hand se voedingsprogram gaan slaap saans honger.

Só lui die Helpende Hand Slaaphonger-verslag, wat handel oor die hongersnood van kleuters wat tans begunstigdes op dié organisasie se voedingsprogram is.

’n Totaal van 52 skole het aan dié studie deelgeneem, wat ten doel het om kinders in dié skole se behoeftes te bepaal. Die studie is ook gedoen om te kyk hoe verdere waarde tot die organisasie se voedingsprojekte toegevoeg kan word.

Sowat 4 800 van dié 52 skole se kleuters is reeds op die organisasie se voedingsprogram.

Helpende Hand, wat reeds sedert 2009 ’n voedingsprojek by kleuterskole het, het vanjaar hul projek verskerp en hande met die Afrikaanse musiekbedryf se grootste onafhanklike platemaatskappy, Coleske Artists, gevat om die #Stophonger-projek van stapel te stuur.

Dié projek fokus daarop om spesifiek behoeftige kleuterskole te ondersteun met koopbewyse om kos aan te koop. Om te verseker dat hierdie kleuters genoeg voedsel ontvang, moet Helpende Hand vanjaar sowat 1,5 miljoen etes voorsien.

Daar is nou meer as 8 000 kleuters in totaal wat deel is van Helpende Hand se voedingsprojek.

“Ondanks die hulp van Helpende Hand kry baie kinders steeds swaar. Hierdie dien as ’n vorderingsverslag om te sien waar ons nog ’n groter verskil kan maak,” meen Ernst Vorster, adjunk- uitvoerende hoof van gemeenskapsontwikkeling en kommunikasie by Helpende Hand.

Volgens kleuterskole wat aan dié studie deelgeneem het, kom 84% van die behoeftige kleuters op die voedingsprogram honger skool toe na ’n naweek by die huis. By 44% van die kleuterskole eet meer as 25% van kleuters nie saans nie.

Riana Nel, ’n ma van twee seuns en een van vele kunstenaars wat as ambassadeurs van die projek optree, het tydens die bekendstelling van die verslag gesê dat dit nie net ’n projek vir haar is nie, maar ’n hartsaak. “Ons as kunstenaars het nie verniet ’n stem nie, ons is nie verniet hier geplaas nie.”

Volgens Hannes Noёth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, is dit belangrik dat armoede op ’n gestruktureerde wyse aangepak word. Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om organisasies soos Helpende Hand wat reeds strukture in plek het te ondersteun om sodoende ’n groter en meer volhoubare oplossing vir hongersnood te bied.

“In die verslag werk ons met persentasies, maar in werklikheid is elke persentasie ’n kind met ’n naam. Ons moet onthou hulle is nie net die grootmense van die toekoms nie, maar die kinders van vandag en hulle verdien dit nie om honger te gaan slaap nie.”

Marie Viljoen, hoof van ’n kleuterskool in Danville, Pretoria, het vertel van die positiewe bydra en groot impak wat die Helpende Hand-voedingsprogram in haar leerders se lewe maak. “ ’n Derde van die ouers by ons skool betaal nie skoolfonds nie, so ons sal nie ons kinders kan bystaan sonder Helpende Hand nie.”

Sy sê voorts dat party kinders tot drie bakkies pap in die oggend eet omdat hulle so uitgehonger is. Die skool moet ook dikwels kos saam met die kinders huis toe stuur.

Lede van die publiek wat betrokke wil raak en ’n bord kos vir kleuters wil borg, kan aansluit by Helpende Hand op www.helpendehand.co.za/stophonger.

Soortgelyke plasings