|

AfriForum Trauma word by die dag sterker

“Trauma bly trauma, hetsy jy deur geweldsmisdaad, natuurrampe of afknouery geraak word.”

Só meen Nantes Kelder, hoof en berader van die burgerregte-organisasie AfriForum se trauma-eenheid.

Dié eenheid is in 2015 op die been gebring en fokus onder meer op slagofferondersteuning soos hulp met die aflê van verklarings en die voorbereiding en bystand van slagoffers tydens hofsake. Traumaberading word ook gebied.

Volgens Kelder is die eenheid genoodsaak om vanjaar uit te brei weens die tempo waarteen misdaad in die land toeneem.

Katy van der Merwe is vanjaar aangestel as operasionele bestuurder van die eenheid en behartig ook die eenheid se nuwe opleidingsprojek. Kelder verduidelik AfriForum Trauma gaan in samewerking met S-leer, Solidariteit se Sentrum vir Voortgesette Leer wat blits-leervideo’s opneem, opleidingsmateriaal skryf en kursusse aanbied vir vrywilligers in gemeenskappe en diegene wat by veiligheidsnetwerke betrokke is.

Hy verduidelik dat die eerste kontaksessie met slagoffers van geweld krities is. “Dit is belangrik om op grondvlak netwerke vir traumaslagoffers te vorm. Ons eenheid kan nie orals wees nie en wil mense binne gemeenskappe, plaaswagte en ander veiligheidstrukture bemagtig en oplei sodat slagoffers dadelik bygestaan kan word.”

Johan Kloppers, wat soos Kelder voorheen by die Suid-Afrikaanse Polisiediens betrokke was, is getaak om bystand te lewer vir slagoffers wat tydens projek Nehemia, AfriForum se veiligheidstrategie, se operasies na vore kom.

Benewens hul betrokkenheid by bogenoemde projekte, sal Van der Merwe en Kloppers soos Kelder slagoffers van ander geweldsmisdade, waaronder plaasaanvalle en -moorde, landwyd ook bystaan en ondersteun.

Antoinette Steyn, wat sedert die eenheid se opening as berader werk, is vanjaar ook betrokke by AfriForum se teenboelie-veldtog by skole.

AfriForum Trauma het sedert die begin van die jaar berading aan meer as 140 slagoffers van geweld gebied en was ook betrokke by slagoffers van die verwoestende Knysna-brande. Die span het in Augustus weer ʼn opvolgbesoek aan Knysna gebring en die boelieprojek ook by ʼn plaaslike laerskool aangebied. “Die eerste keer wat ons Knysna besoek het, was dit ʼn harwar. Mense was nog in ʼn ontkenningsfase en het nog nie besef watter invloed die brande op hulle lewens gaan hê nie. Daarom het ons weer gekom omdat die impak van die ramp nou eers by baie mense ingesink het. ”

AfriForum Trauma is veral betrokke by slagoffers van plaasmoorde en het vanjaar ook ʼn ooreenkoms met die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) gesluit om berading vir hul lede te bied.

“Ons het al met baie mense ʼn pad gestap en die eerste vraag wat baie mense vrae is: ‘Hoekom ek?’ Mense worstel met gemengde gevoelens van haat, woede, hartseer en pyn en dit bly maar altyd ʼn moeilike gebeurtenis om te probeer verwerk,” sê Kelder.

Hy sê voorts dat hy in die tyd wat hy al saam met slagoffers deurgebring het, hy ook gesien het hoe sterk mense se geloof en hulle in hul denke kan wees. “Almal hanteer trauma op ʼn ander manier, maar op die einde van die dag is dit jou denkwyse wat bepaal hoe vinnig jy gesond gaan word. Party mense is meer besorg oor hul veiligheid, party lewe in vrees elke dag en ander weier om fisies of emosioneel in ʼn tronk te lewe.”

Oor die pad vorentoe sê Kelder is die eenheid opgewonde oor hul opleidingsvideo’s en hulle hoop om in die toekoms nog meer slagoffers te help en berading te bied.

Vir meer inligting of navrae oor berading stuur ʼn e-pos na trauma@afriforum.co.za

Soortgelyke plasings