|

Vierpotige nou deel van AfriForum-buurtwag in Gauteng

Die AfriForum-buurtwag by die Grootfontein Landgoed in die ooste van Pretoria het vandeesmaand ʼn nuwe vierpoot-vennoot genaamd Tinta ingelyf om deel te neem aan hul veiligheidspatrollies.

Tinta is ʼn reuse-Schnauzer en is vir die eerste keer ingespan tydens die burgerregte-organisasie se nasionale massapatrollie wat vroeg vandeesmaand plaasgevind het. Buurtwagte in Apiesrivier, Bronkhorstspruit, Meyerspark, die Moot, Wes-Moot, Pretoria-Oos en -Wes, asook Rayton en Cullinan het in samewerking met talle ander veiligheidsinstansies, waaronder die Tshwane Metropolisie, die nasionale verkeerspolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Tshwane Metropool, aan dié nasionale massapatrollie deelgeneem.

Volgens Zelda Engelbrecht, ʼn lid van die Grootfontein CE-buurtwag, het hul vir Tinta ingespan omdat dié buurtwag gebiede met groot oop velde en plotte met erwe wat ver uit mekaar is, moet patrolleer. Haar pligte sal onder meer spoorsny, die agtervolging van voortvlugtende verdagtes en die opspoor van gesteelde goedere, insluit.

“Die gebiede waar ons patrolleer het verskillende uitdagings. Die straatligte werk nie altyd nie, wat dit moeilik maak om snags ver te sien. Daar is ook mielielande, waar rowers self gereeld wegkruip of gesteelde goedere wegsteek. Tinta sal dit vir ons makliker maak om voortvlugtiges of die voorwerpe wat hulle weggesteek het te vind omdat sy vinnig op ’n spoor kan draf, selfs in pikdonkerte en oor teerpaaie,” meen Engelbrecht.

Sy het ook aan Forum Nuus gesê dat Tinta ʼn sterk en betroubare hond is met baie deursettingsvermoë. “Sy het verskriklik baie energie en krag, maar is ook baie liefdevol en mal oor speel. Haar vriendelikheid moet egter nie onderskat word nie.”

Fanie Potgieter en Rudi Engelbrecht, beide lede van dié buurtwag, is onderskeidelik verantwoordelik vir Tinta se opleiding en hantering.

Die burgerregte-organisasie doen ’n beroep op die onderskeie gemeenskappe van die Tshwane Metropool om by hul plaaslike AfriForum-takke en -buurtwagte betrokke te raak en aktief aan die aktiwiteite van die buurtwagte deel te neem. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos na lambert@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings