|

Vragmotors wat Standerton se paaie vodde ry, nie meer welkom in woonbuurte nie

Die boodskap aan swaarvragmotorbestuurders is nou duidelik – Standerton se woonbuurte is nie ’n deurgang of oorstopplek nie. Die nege kennisgewingsborde wat AfriForum se Standerton-tak nou op strategiese toegangsroetes tot woonbuurte in hierdie dorp opgerig het, toon dat inwoners nou keelvol is vir die swaar verkeer van swaarvoertuie in residensiële gebiede. Met hierdie kennisgewingsborde trek inwoners nou as’t ware ’n streep in die sand en neem sodoende eienaarskap van die voorstedelike gevoel van woonbuurte terug. 

Die verval van paaie in en om Standerton het in die afgelope jare ernstige afmetings aangeneem, verduidelik Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld-distrik. “Die verval is so erg dat die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit selfs in sy jongste jaarverslag (vir die 2022/2023-finansiële jaar) wat in Julie vanjaar vrygestel is, dit onomwonde stel dat die munisipaliteit nie die instandhouding van sy padinfrastruktuur genoegsaam kon doen nie. Beperkings in terme van begroting en die prioritisering van water en sanitasieprojekte in die munisipaliteit word as redes vir dié swak instandhouding voorgehou,” sê hy. 

AfriForum se Standerton-tak voer boonop aan dat die toevloei van swaarvoertuie die agteruitgang van paaie hier vererger.

Volgens Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, is die vragmotorverkeer op voorstedelike paaie in die dorp ’n groot probleem aangesien dié paaie nie ontwerp is om die hoeveelheid verkeer of gewig te dra nie. “Die projek wat ons met die kennisgewingborde aangepak het, volg juis in reaksie op die toenemende voorkoms van swaarmotorvoertuie in Standerton se woonbuurte en bestuurders se neiging om voorstedelike paaie as kortpaaie in te span of in die buurt in hul swaarvoertuie te oornag,” benadruk Enslin.

“Danksy die kennisgewings wat nou opgerig is, sal dit owerhede in staat stel om te kan optree teen die oortreders en help verseker dat ons woonbuurte se paaie veilig bly en teen verdere verval beskerm word,” voeg hy by.

Die kennisgewingsprojek is in twee fases aangepak. Die eerste fase is reeds aan die einde van Junie afgehandel. Verskeie nuwe verkeersborde is ook nou as deel van die tweede fase van die projek opgerig.

AfriForum-buurtwag takel brande en ander onwettige optrede in Standerton

Intussen het AfriForum se Standerton-buurtwag ook die afgelope maand op verskeie brande in dié dorp en omliggende gebied gereageer. Tydens een van dié insidente, wat op Donderdag 25 Julie plaasgevind het, het die buurtwag, die plaaslike munisipale brandweerdiens en Kasselman-sekuriteit ’n brand geblus wat by ’n lapa op ’n residensiële perseel in die dorp uitgebreek het. Die buurtwag het ook bystand verleen in die beveiliging van die toneel.

Die Standerton-buurtwag het voorts ook onlangs veiligheidsoperasies in samewerking met die Departement van Binnelandse Sake en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangepak. Hiertydens is verskeie ondernemings wat deur buitelanders besit en bedryf word, besoek. Inspeksies is gedoen om onder meer immigrante se werkspermitte of ander relevante immigrasiedokumente na te gaan. Negentien mense is tydens die operasie gearresteer.

“Die Standerton-tak se samewerking met onderskeie instellings en plaaslike owerhede het die afgelope maand tot groot suksesse in die dorp gelei en help toesien dat kwessies soos misdaad en die veiligheid van paaie in ons woonbuurte prioriteit geniet,” sluit Enslin af.

Raak vandag nog betrokke

Jy kan ook ’n verskil maak. Sluit vandag nog aan by AfriForum se Standerton-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings