|

Laerskool-debatteerders staan slaggereed om hulle sê te sê by Dink of Sink-werkswinkel

AfriForum se Dink of Sink-span het op 3 Februarie die eerste Dink of Sink-werkswinkel vir laerskoolleerders by die Hoërskool Montana in Pretoria aangebied.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree. AfriForum het egter besluit om in 2024 dié kompetisie na laerskole in Gauteng uit te brei waar graad 6- en 7-leerders deelneem .

Altesaam 65 laerskoolleerders en 18 onderwysers van 7 laerskole in die Pretoria-omgewing het die werkswinkel bygewoon. Die skole wat die werkswinkel bygewoon het, is Laerskool Wonderboom, Laerskool Magalieskruin, Laerskool Anton van Wouw, Laerskool Constantiapark, Laerskool Kameelfontein, Laerskool Pretoria-Oos en Laerskool Lynwood.

Die werkswinkel het eers gefokus op die teorie van die Dink of Sink-debatskompetisie, waaronder die kompetisieformaat, die beoordelaarstaat en die tien stappe om te volg ter voorbereiding vir ’n onvoorbereide debatskompetisie. Daarna het die leerders prakties argumente gevorm oor verskeie onderwerpe en die werkwinkel het afgesluit met ’n vriendelike debat tussen Laerskool Anton van Wouw en Laerskool Constantiapark. Die onderwerp waaroor die leerders gedebatteer het was “Ouers moet weet wat op hul kinders se selfone aangaan”.

“Die leerders wat die werkswinkel bygewoon het, het uit die staanspoor gereedgestaan om goeie argumente te vorm en hulle sê te sê,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Die leerders sal nou terugkeer na hul onderskeie skole en saam oefen om slaggereed te wees vir die eerste Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie wat op 29 Februarie by die Hoërskool Montana sal plaasvind.

“Die hoë gehalte van Saterdag se werkswinkel voorspel dat dit vanjaar ’n taai eindstryd tussen die jong debatteerders by die onvoorbereide debatskompetisie in Gauteng gaan wees,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings