|

Walker Drive-buurtwag help nooddienste op toneel van lewelose liggaam

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in Gqeberha het op 25 September omstreeks 14:00 ’n noodroep op ’n veiligheidsgroep ontvang van ’n lewelose liggaam wat op Maitland-strand gevind is. Die buurtwag het onmiddellik die plaaslike SAPD na die toneel ontbied. Die Walker Drive-buurtwag het kort ná die SAPD daar aangekom om die nodige hulp aan die nooddienste te verleen.

Na verneem word, is die oorledene aan natuurlike oorsake dood. AfriForum betuig sy innige meegevoel aan die oorledene se familie.

“Ons AfriForum-buurtwaglede reageer gereeld op noodroepe op hul sosiale- en noodplatforms. Ons buurtwaglede is bewus van die gevare wat elke situasie inhou en word toegerus met alle nodige toerusting en kennis om hulself te beveilig. Hulle ontvang ook opleiding oor onder meer toneelhantering, regsaspekte en patrollies om te verseker dat hulle die gemeenskap binne die raamwerk van die wet kan ondersteun,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Hierdie voorval is weereens ’n bewys daarvan dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,” sluit Van der Walt af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: Klik hier vir inligting.

Soortgelyke plasings