|

Vredendal-tak skenk flitse aan Lutzville-GPF en Community in Blue

Die AfriForum-tak in Vredendal het op 13 Junie ses flitse aan die Lutzville-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Community in Blue (CIB) geskenk om hulle te help om die omgewing veiliger te hou.

Die behoefte aan flitse is geïdentifiseer toe lede van die plaaslike GPF en die CIB gedurende ’n aksie nie flitse by hulle gehad het nie. Dit het toe aan die lig gekom dat hulle egter oor geen flitse beskik nie en die Vredendal-tak het met ’n vergadering ’n versoek daarvoor ontvang. Die tak het toe ses flitse aangekoop en dit aan hulle oorhandig.

“Nou kan hierdie lede in die nag sien wanneer hulle patrollies ry en voetptrollies doen. Dit gaan hul werk vergemaklik en sodoende veiliger areas tot gevolg hê,” sê Wilco Engelbrecht, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Matzikama-plaaswagte.

Volgens Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is hierdie projek ’n voorbeeld van gemeenskappe wat omgee vir hul mense en mekaar bystaan. “Dit is ook ’n bewys daarvan dat AfriForum glo in samewerking met ander organisasies. Gemeenskappe  se veiligheid  is prioriteit en dit raak ons almal. Ons wens die GPF en die CIB vele suksesvolle veilgheidsaksies toe,” sluit Crous af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by veiligheidstrukture betrokke te raak en deel te word van die oplossing. Sluit vandag nog by AfriForum se Vredendal-tak aan: SMS “Vedendal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings