|

VROU BEREIK HOSPITAAL DANKSY AFRIFORUM 911-NOODKNOPPIETOEP

Deur Marthinus Koekemoer

Was dit nie vir AfriForum se 911-noodknoppietoep nie het Estelle Slingerland van Pretoria se ma, Rhoda van Eeden, dit dalk nie betyds tot by die hospitaal gemaak toe haar suurstofvlak gevaarlik laag gedaal het ná sy COVID-19 opgedoen het nie.

“Dit was omtreeks 19:00 op ’n Sondagaand toe ek die noodknoppie gedruk het om ’n ambulans te ontbied om my ma te kom help. Ek en sy het albei positief vir COVID-19 getoets en die hele huishouding moes isoleer. Dus kon nie een van ons haar hospitaal toe ry toe haar suurstofvlak ernstig begin daal het nie,” vertel Slingerland.

Van Eeden het vermoedelik COVID-19 by haar werkplek opgedoen en met ’n geskiedenis van diabetes, hartversaking en nierprobleme meen Slingerland haar ma sou by die huis doodgegaan het as ’n ambulans nie gou genoeg by hulle uitgekom het nie.

“Ná ek die noodknoppie gedruk het, het AfriForum 911 beide privaat en staatsambulanse in die hande probeer kry. Hoewel my ma nie op ’n mediese fonds was nie, is ’n privaatambulans ontbied. Dit het omtrent ná ‘n halfuur opgedaag. Kort daarna het ek ’n oproep van die staatsambulansdiens gekry wat niemand beskikbaar gehad om te help nie. As ons vir ’n staatsambulans moes wag, het my ma waarskynlik by die huis gesterf.”

Slingerland verduidelik haar ma se suiker was op daardie stadium reeds op 32 en haar suurstof baie laag. In hierdie omstandighede help dit ’n diabeteslyer om op hul rug te lê om makliker asem te haal. Dus was ’n ambulans belangrik. Iets anders waarmee die toep gehelp het, was om die ambulans by Slingerland se huis te kry. Die toep maak gebruik van ’n mens se foon se ligging om nooddienste daar te kry. Sy vertel van ’n geval in die verlede waar ’n ambulans gebel was en die adres telefonies oorgedra is en waar die ambulans aanvanklik by ’n verkeerde huis opgedaag het.

Danksy die vinnige optrede van 911, was Van Eeden vinnig by die hospitaal. Sy is ongelukkig ’n week later aan COVID-komplikasies oorlede.

Alle AfriForum-lede kan gratis van die 911-toep gebruik maak. ’n Lid kan vyf kontakpersone op die toep laai wat in ’n noodsituasie gekontak word. Verkieslik moet die kontakpersone iemand wees wat naby jou woon wat vinnig by jou sal kan uitkom. Hierdie vriende word met die druk van die eerste knoppie op die toep gekontak. Daar is ook knoppies vir mediese en veiligheidsvoorvalle. Hiermee kan ’n ambulans of sekuriteitsdienste, indien nodig, ontbied word.

’n Weergawe van die toep is reeds in die VSA in gebruik. Daar is planne in wording om die toep in Suid-Afrika verder uit te brei en met plaaslike buurt- en plaaswagte te koppel.

Slingerland maak al geruime tyd van die toep gebruik, maar die situasie met haar ma was die eerste keer wat sy dit moes gebruik. “Ek was baie beïndruk met hul diens. Ons woon immers in Suid-Afrika en almal moet iemand hê op wie hulle in tyd van nood kan staatmaak,” sê sy.

Om meer oor die toep uit te vind, besoek www.afriforum911.co.za.

Soortgelyke plasings