|

AFRIFORUM ONDERSTEUN BAROLONG BOO MODIBOA-GEMEENSKAP MET REGSHULP

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het namens lede van die Barolong Boo Modiboa (Ba Matlwang) Communal Property Associaton (CPA) in die omgewing van Potchefstroom ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2000 (’n PAIA-aansoek) aan sowel die administrateur van die CPA as die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (die DLGLO) gerig om inligting oor die eiendom en ander sake van die CPA in te win.

Gemeenskapslede en bevoordeeldes van die CPA het geen inligting ontvang wat hulle van die administrateur en die DLGLO versoek het nie. Dié inligting hou verband met bekommernisse oor die gebrek aan vordering wat sedert die aanvang van administrateur se termyn gemaak is, asook die algemene onbeskikbaarheid van inligting wat met die CPA verband hou.

Die volgende inligting wat met die sake van die CPA verband hou, is in die PAIA-aansoek aangevra:

  • ’n lys van die transaksies wat die gemeenskap aangegaan het
  • ’n lys van sake-ooreenkomste wat die administrateur namens die gemeenskap aangegaan het
  • alle huurooreenkomste wat aangegaan is
  • die verslag oor en die bevindings van die ondersoek na die bestuur van die CPA
  • die bankstate
  • die geouditeerde finansiële state
  • die oorspronklike waardasie van alle plase wat vir die CPA aangekoop is
  • alle pleitstukke en dokumente wat verband hou met die eis van R3 miljoen vir ’n projek waarvoor die CPA gedagvaar word
  • die Barolong-beleggingsmaatskappy se sertifikate
  • die bateregister
  • die logboek vir die voertuig
  • enige inligting oor en notules van werkwinkels en vergaderings met die gemeenskap en die DLGLO
  • dokumentasie wat aandui wat tot dusver verrig is om aan die Wet op Verenigings vir Gemeenskaplike eiendom 28 van 1996 te voldoen.

Die gemeenskap is van mening dat die aangewese administrateur, Kgokong Attorneys, nie in die beste belang van die gemeenskap optree nie. Hul bekommernisse sluit in dat die administrateur geen daadwerklike stappe doen om die deurlopende oortreding op hul grond hok te slaan nie. CPA-lede is ook bewus van ’n plan om ’n Eskom-substasie op hul eiendom op te rig. Oor die algemeen is daar ’n gebrek aan deursigtigheid en die voorsiening van inligting, veral oor finansiële aangeleenthede. Dit is veral kommerwekkend. Hierdie lede van die CPA het hulp van die DLGLO versoek, maar geen ondersteuning gekry nie. Dit is duidelik uit die bogenoemde gebeure dat die belange en welvaart van die CPA nie vooropgestel word nie.

“Eiendomsreg is die voorvereiste vir die skep van rykdom en gevolglik die welvaart van ’n gemeenskap. AfriForum kan nie bloot toekyk hoe ’n gemeenskap deur ’n regeringsaangestelde regsentiteit uitgebuit word nie,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum.

“Ons verstaan nie waarom ’n administrateur aangestel is nadat die gemeenskap sy verskille bygelê het nie. Ons is baie besorg oor ons gemeenskap se eiendom. Ons soek antwoorde van die departement en dringende stappe moet gedoen word om ons eiendom te beskerm. Geen inligting word aan ons voorsien nie; ons word nie geraadpleeg oor belangrike besluite nie en ons word nie bemagtig om die CPA self te bestuur nie. Dit blyk dat daar geen beduidende poging is om die bestuur van die CPA aan gemeenskapslede terug te gee nie. Ons doen nou stappe om te verseker dat ons die CPA sélf kan bestuur,” sê Kgotso Ratikoane, ’n lid van die Barolong Boo Modiboa-gemeenskap en CPA-bevoordeelde.

“Gevalle soos dié gooi ’n donker skaduwee oor die regering se verbintenis tot eiendomsreg en die ware bemagtiging en welvaart van gemeenskappe,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings