|

Vryheid-vullisterrein vaar vrot in oudit

’n Oudit deur AfriForum se Vryheid-tak het bevind dat die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit se vullisterrein in ’n haglike toestand is. Dié oudit vorm deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinouditprojek, wat die regering se dienslewering moniteer.

“Volgens Artikel 9(1) van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur voldoen Vryheid se vullisterrein nie aan die nodige vereistes nie. Die vullisterrein se ouditresultaat het inderwaarheid die afgelope vyf jaar van 40% na ’n ellendige 5% gedaal. Dit is duidelik dat die plaaslike regering beheer oor dié vullisterrein verloor het en die Vryheid-gemeenskap gefaal het,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.

“AfriForum doen jaarliks vullisterreinoudits omdat die staat versuim om hierdie belangrike funksie te verrig en die resultate bekend te maak. AfriForum kon ook glad nie die nodige lisensiedokumente op die departement van omgewingsake se webblad vir Vryheid vind, soos vereis word nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

Die gemeenskap is erg omgekrap oor brande op die vullisterrein wat gereeld ’n stink rookwolk oor die dorp laat versprei. “Die departement van omgewingsake is deur AfriForum betrek, en oorweeg drastiese stappe teen Abaqulusi,” voeg van der Walt verder by.

Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings