|

Upington-tak vervang stoptekens

AfriForum se Upington-tak het op 10 Februarie stoptekens op die hoek van Vierde Laan en Jan de Klerkstraat opgerig. Dit volg nadat die gemeenskap die tak genader het om stoptekens by verskeie  vierrigtingstoppe aan te bring omdat die gebrek aan padtekens vir motoriste ’n gevaar inhou en tot ongelukke lei. Aangesien die munisipaliteit nie fondse begroot het vir die opgradering van padtekens nie, het die Upington-wetgewing dié tak toestemming gegee om stoptekens op te rig.

Vervolgens is daar op die hoek van Jan de Klerk- en Rondomstraat ’n stopteken opgerig. By die 8 SAI-weermagbasis is die bestaande stopteken en paal opnuut in ’n betonvoetstuk op die hoek van Dakota- en Diedericksstraat gegiet. Die Upington-tak het die stoptekens gekoop terwyl Werner Strauss (AfriForum), twee helpers en Micce Strauss dit opgerig het.

“Stoptekens is een van die belangrikste padtekens op paaie en mense verloor daagliks hulle lewens as gevolg van padtekens wat nie vervang, of herstel word nie,” sê Werner Strauss distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Die Upington-tak beplan om in die toekoms verfmerke op die paaie op te knap sodat dit meer sigbaar is.

“Die Dawid Kruiper-munisipaliteit versuim om ons dorp te onderhou en so gaan alles net meer agteruit. Ons moedig die gemeenskap aan om voor hulle eie huise skoon te maak en probleme vroegtydig by die munisipaliteit aan te meld sodoende sal ons dorp al klaar beter lyk,” sluit Strauss af.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om by dié tak betrokke te raak en druk op die regering te plaas sodat hulle verpligtinge teenoor die gemeenskap asook hulle grondwetlike pligte na te kom: SMS “Upington” na 45344 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings