|

#VulDieGat: Kaap Agulhas-tak help munisipaliteit met 3 ton teer om paaie te herstel

Die AfriForum-tak in Kaap Agulhas het op 14 Augustus ’n nuwe era van samewerking met die Kaap Agulhas Munisipaliteit begin deur 100 sakkies teer, oftewel 3 ton teer, aan die munisipaliteit te oorhandig vir herstelwerk aan die paaie in Bredasdorp se industriële gebied en die dorp se sentrale sakekern. Met die onlangse vloede en swaar reën het ’n aantal gevaarlike slaggate in die pad gevorm wat plaaslike ondernemings nadelig beïnvloed.

Die munisipaliteit is nog besig met die herstelwerk aan die paaie.

Hierdie skenking is deel van AfriForum se nasionale projek waar die organisasie se takke oor die land heen slaggate herstel. Vanjaar se doelwit was om slaggate ter waarde van R1 miljoen te herstel maar dié doelwit is egter al in Julie oorskry: In 2024 is reeds bykans R1,5 miljoen se slaggate met ongeveer 400 000 ton teer (oftewel 16 000 sakke teer) gevul.

AfriForum se nuutverkose Kaap Agulhas-takbestuur is daartoe verbind om die belange van die gemeenskap in samewerking met die munisipaliteit en ander rolspelers te dien. “Dit is vir ons belangrik om saam met die Kaap Agulhas Munisipaliteit te werk. Ons is dankbaar dat ons ’n bydrae tot hierdie belangrike herstelwerk kon lewer en sien uit om nog vele ander projekte ten bate van die gemeenskap, in samewerking met die munisipaliteit, aan te pak,” sê Freddie Els, die nuwe voorsitter van die Kaap Agulhas-tak.

Die nuwe bestuur van die Kaap Agulhas-tak bestaan uit Els (voorsitter), Jaco Marais (ondervoorsitter), Lettie Pienaar (sekretaris), Douw Willems (tesourier) en Andrew Hudson (plaaslikeregeringsake).

Die Kaap Agulhas-tak is ook besig om ’n buurtwag in Struisbaai te stig. “Na aanleiding van toenemende misdaad in die omgewing is dit uiters belangrik dat ons gemeenskap beveilig word. Ons nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by ons projekte, maar ook om by ons buurtwag aan te sluit en sodoende ons gemeenskap sterker te maak,” sê Marais, die nuutverkose ondervoorsitter van die tak.

Sluit aan by AfriForum se Kaap Agulhas-tak om jou deel te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings