|

Vullisterreinoudit: Een vullisterrein staan kop en skouers bo ander in KZN

Nege van die 10 vullisterreine wat AfriForum vanjaar in KwaZulu-Natal geoudit het, het uiters swak gevaar. Een terrein, in Richardsbaai, het egter kop en skouers bo die ander uitgestaan en aan 98% van die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.

AfriForum het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie.

Om die oudit te slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het. Terwyl die vullisterrein in Richardsbaai aan bykans al die vereistes voldoen het, het van die swakste presterende vullisterreine in die provinsie, naamlik Paulpietersburg, Newcastle en Pongola, onderskeidelik aan slegs 16%, 22% en 28% van die ouditvereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in KwaZulu-Natal:

Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, sê die plaaslike owerhede neem geensins vullisbestuur ernstig op nie. Dit beteken dat die vullisterreine wat reeds in ’n haglike toestand is, aanhou agteruitgaan. “Die munisipaliteite het ernstige tekortkominge met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is. Kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié afdeling. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie.”

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen KwaZulu-Natal se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Soortgelyke plasings