|

Vuurwapens en padblokkades

Marnus Kamfer

Die ongemak wat die staat en wetstoepassingsowerhede veroorsaak met betrekking tot die wettige besit van ’n vuurwapen blyk nimmereindigend te wees. Net sodra wettige vuurwapeneienaars en organisasies soos AfriForum die een aanslag teen wettige vuurwapenbesit help afweer, volg die volgende aanslag. Die mees onlangse frustrasie wat wettige vuurwapeneienaars ervaar, word vergestalt in padblokkades en lukrake, aanvallende en onredelike ondervraging oor vuurwapens wat gedurende dié padblokkades in die niksvermoedende bestuurder of passasier van die geteikende voertuig se besit is.

Hierdie modus operandihet in die laaste deel van verlede jaar hoogty gevier, waarna gevalle afgeneem het nadat klagtes en inligtingstukke deur verskeie organisasies aan hul lede versprei is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ook in ’n poging om van sy lede se veskuilde agendas te beteuel, dokumente uitgevaardig wat die korrekte benadering uiteensit. Hierdie bogenoemde werkwyse vlam egter nou weer op, ondanks die bogemelde pogings. Dít kan ’n jagekskursie, gesinsuitstappie, of selfs ’n werksverwante reis in ’n nagmerrie laat ontaard as wettige vuurwapeneienaars nie paraat en ingelig is oor hoe om padblokkades of konfrontasies van die aard te hanteer nie.

Indien ’n wettige vuurwapeneienaar in die onbenydenswaardige posisie beland waar daar navraag gedoen word deur ’n wetstoepassingsbeampte oor ’n vuurwapen in die gemelde eienaar of sy passasiers se besit is, sal dit wys wees om te alle tye beleefd op te tree teenoor die betrokke beampte en sy kollegas, of die betrokke beampte beleefd is of nie. Om aanvallend en geïrriteerd voor te kom is die spreekwoordelike olie op die vuur in dié tipe situasies. Samewerking moet ook ten alle tye verleen word in antwoord op regsgeldige versoeke.

Ingevolge artikel 107 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000), die Wapenwet, moet ’n vuurwapeneienaar, wat sy/haar vuurwapen daar en dan by hom/haar het, op ’n polisiebeampte of ander gemagtigde persoon se versoek, die lisensie, permit of ander magtiging om die vuurwapen in sy/haar besit te hê aan die gemelde beampte beskikbaar stel vir inspeksie. Daar word ook van die vuurwapeneienaar verwag om hom of haarself op versoek na behore te identifiseer en die beampte kan selfs versoek dat die betrokke vuurwapen aan die beampte oorhandig moet word vir inspeksie. Indien die vuurwapeneienaar nie die gemelde lisensie, permit of magtiging aan die beampte beskikbaar kan stel vir inspeksie nie, is die beampte by magte om beslag te lê op die vuurwapen tot en met sodanige lisensie, permit of magtiging wel beskikbaar gestel kan word, mits die beampte hom/haarself ook na behore identifiseer en sy/haar aanstellingsertifikaat toon.

In gevalle waar die beampte onnodig venynig raak oor onbenullighede soos die wyse waarop die vuurwapen gedra word of dat die betrokke lisensie nie ’n vuurwapeneienaar magtig om in ’n spesifieke stadium ’n vuurwapen met hom/haar saam te ry nie, moet die situasie, oudergewoonte, kalm en rustig hanteer word en die beampte vriendelik attent gemaak word op die bestaande wetgewing in die verband.

Artikel 84 van die Wet gaan oor die wyses waarop vuurwapens by ’n gemagtigde persoon of eienaar gedra kan word. Artikel 84 lui dat ’n handwapen, in die openbaar, in ’n skede of gepaste houer  aan die persoon van die eienaar of gemagtigde persoon gedra moet word. Die skede of houer moet vir die doeleindes vervaardig, ontwerp of aangepas wees. Die handwapen kan ook gedra word in ’n rugsak of soortgelyke houer. Ongeag die wyse waarop die handwapen gedra word, moet dit bedek wees en moet die persoon wat die handwapen dra doeltreffende beheer daaroor uitoefen. Enige ander vuurwapen, anders as ’n handwapen, moet ook in ’n houer gedra word wat daarvoor vervaardig, ontwerp of aangepas is.

Alhoewel dit geargumenteer kan word dat die binnekant van ’n motor nie ’n openbare ruimte is nie en artikel 84, soos hierbo bespreek, nie pertinent van toepassing is nie, is dit altyd veiliger om oorversigtig te wees en nie die vuurwapen buite sy houer of skede ooglopend in die voertuig te vertoon nie. Vermy eerder ’n konfrontasie oor die vuurwapen waar moontlik.

Die tipe lisensie waaronder die betrokke vuurwapen gelisensieer is, hetsy selfverdediging, sportskiet (geleentheidsportskiet of toegewyde sportskiet) of jag (geleentheidheidsjag of toegewyde jag) beïnvloed nie die wyse waarop die vuurwapen vervoer en gedra moet of mag word nie. Moet egter onder geen omstandighede ’n vriend of familielid se vuurwapen vir hom/haar vervoer na byvoorbeeld ’n jagplaas, as sy/hy nie ook in dieselfde voertuig met sy/haar geldige lisensie saamry nie. Indien die eienaar van die vuurwapen ter sprake in ’n ander voertuig as die vuurwapen is, kan die bestuurder van die voertuig wat die vuurwapen vervoer in warm water beland, weens ’n oortreding van artikel 3 van die Wet omdat die bestuurder dan in “besit” van die vuurwapen geag kan word sonder dat die bestuurder die nodige magtiging of lisensie het, of kan toon.

Kortliks, beskerm jouself sover moontlik by padblokkades deur:

  1. jou vuurwapen nie ooglopend te vertoon nie;
  2. te alle tye vriendelik en rustig met die wetstoepassingsbeamptes om te gaan;
  3. ’n geldige lisensie of magtiging vir die vuurwapen in jou besit te hê;
  4. ’n afskrif van die tersaaklike wetgewing soos hierbo uiteengesit saam met jou in die voertuig te hê; en
  5. nie omkoopgeld te betaal nie.

Soortgelyke plasings