|

Waar staan ons nou met die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA)

Vanaf 2017 bly die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys ’n kontroversiële brandpunt wat groot kommer wek. Die formaat wat hierdie wetgewing uiteindelik gaan aanneem, gaan bepalend wees vir die toekoms van Afrikaanse skole in die land.

Ervaring met Afrikaanse skole in Namibië het geleer dat moedertaalonderrig in openbare skole letterlik oornag kan verdwyn en dat die reg tot moedertaalonderrig dan ’n luuksheid kan word wat nie vir almal beskore is nie.

Omdat ons taal ’n kernbestanddeel van ons identiteit is en moedertaalonderrig (soos wat dit reeds in die twintigste eeu in skole en tersiêre inrigtings ontwikkel is) die heel beste opvoedkundige opsie vir enige persoon is, doen AfriForum alles in ons vermoë om Afrikaans as medium van onderrig en moedertaalonderrig oor die algemeen in opvoedkundige instellings te beskerm. Dit verduidelik ook waarom ons ’n onvermoeide veldtog voer om teen die huidige weergawe van hierdie konsepwet standpunt in te neem.

Met elke nuwe weergawe wat verskyn, sorg ons dat ons ’n regsmening deur ’n uiters kundige advokaat indien. In Desember 2021 is ’n hersiene weergawe van die wetsontwerp in die Staatskoerant gepubliseer. In Februarie 2022 is dit aan die parlementêre portefeuljekomitee voorgelê. Die komitee bestaan uit parlementslede van verskeie politieke partye en hulle doel is onder meer om wetgewing goed te keur sodat die parlement daaroor kan besluit voor die president dit onderteken en dit in werking tree, of om dit terug te stuur na die opsteller vir hersiening, of dit na die publiek te verwys vir openbare insette.

AfriForum het ons kommentaar in Junie 2022 by dié komitee ingedien en sal DV op 15 November 2022 op hulle uitnodiging ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee voorlê. Tans is die openbare voorleggingsproses in volle swang met verskeie instellings en organisasies wat voorleggings maak. Na afloop daarvan sal daar meer duidelikheid geld oor die toekoms van die wetsontwerp. Ons sal die publiek deurgaans op hoogte hou oor waar die proses staan.

Soortgelyke plasings