|

Wateragentskap nie topprioriteit in waterkrisis nie, takel eerder swak munisipaliteite – AfriForum

AfriForum waarsku dat die bekragtiging van wetgewing wat die weg baan vir die vestiging van ’n nuwe staatsbeheerde agentskap wat grootmaatwaterinfrastruktuur moet ontwikkel en bestuur, nie te midde van die huidige waterkrisis as die regering se topprioriteit geag moet word nie. Die burgerregteorganisasie hou vol dat swak munisipale bestuur van waterhulpbronne tans dié grootste bedreiging vir watersekerheid inhou en daarom veel dringender is as die oprigting van nóg ’n agentskap in staatshande.  

Ten spyte van byna alle staatsbeheerde entiteite se droewige rekord, verwerp AfriForum nie die totstandkoming van die agentskap sonder meer nie. Die organisasie voer egter aan dat die waardeketting wat die land se watersekerheid moet verseker, net so sterk soos sy swakste skakel is. Munisipaliteite wat faal om waterdienste aan eindverbruikers te lewer, het reeds dié ketting gebreek.

Volgens die Departement van Water en Sanitasie (DWS) beloop munisipaliteite se skuld aan waterrade, wat verantwoordelik is vir die lewering van water in grootmaat aan munisipaliteite, reeds meer as R22,36 miljard. Dié en verskeie ander skokkende feite het gister tydens ’n voorlegging by die parlementêre portefeulje komitee vir Water en Sanitasie aan die lig gekom. Hiertydens is onder meer gewaarsku dat die omvang van munisipaliteite se skuldkrisis nou reeds so ernstig is dat verskeie waterrade binne die volgende ses tot twaalf maande bankrot kan wees en nie hul bedryfsuitgawes sal kan dek nie.

“Dié dreigende bankrotskappe sal daartoe lei dat waterrade nie meer water aan munisipaliteite kan lewer nie en munisipaliteite dus op hul beurt ook nie water aan hul inwoners sal kan voorsien nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Die ouditeur- generaal se verslag oor munisipaliteite wat gister aan die parlement voorgelê is, bevestig ook munisipaliteite se swak finansiële bestuur en gebrekkige invorderingsvlakke wat die hoop op ’n ommekeer by waterrade selfs verder verskraal,” sê De Vaal verder.

Volgens De Vaal gaan meer as 40% van skoon drinkwater boonop landwyd verlore as gevolg van lekkasies in munisipale verspreidingsnetwerke omdat instandhouding van munisipale infrastruktuur oor dekades heen agterweë gebly het. Dié realiteit is ’n verdere bewys van die omvangryke invloed wat swak munisipale bestuur op watersekerheid het en bevestig dat die kern van die waterprobleem nie beredder sal word deur ’n agentskap wat fokus op grootmaatwaterinfrastruktuur nie.

AfriForum herbevestig dat die antwoord op gemeenskappe se watersekerheid lê in verhoogde samewerking tussen die regering, gemeenskappe en die privaat sektor. “Samewerking van dié aard sal die hele watervoorsieningsketting versterk,” verduidelik De Vaal.

AfriForum ondersoek intussen reeds samewerkingsgeleenthede met privaat diensverskaffers om die invordering van munisipale tariewe te behartig sodat fondse direk aan waterrade betaal kan word. “Dit sal voorkom dat fondse in die koffers van wankelende munisipaliteite beland en uiteindelik wanbestee word. Sodoende sal waterrade hul bedrywighede kan voortsit en verhoed dat huishoudings se krane leegloop weens munisipaliteite se wanprestasie,” sluit De Vaal af. 

Soortgelyke plasings