|

Waterkloof-broers help toep ontwikkel om angs en depressie by tieners vroegtydig te identifiseer

Twee broers van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria het ’n toep help ontwikkel wat groot potensiaal het om tienerprobleme vroegtydig te identifiseer en wat kan help om selfskending en selfdood onder leerders te voorkom.

Gerthyo en Wilando Ferreira, wat onderskeidelik in gr. 10 en gr. 12 is, was verlede jaar ook die nasionale wenners by die South African Youth Engineering and Science Symposium (SAYESS) in Suid-Afrika. Vroeër vandeesmaand was hulle ook die internasionale wenners by dié ekspo wat in Spanje aangebied is, terwyl hulle ook in die afdeling vir navorsing in sielkundige wetenskappe gewen het.

Hulle het ’n vraelys ontwikkel waarvolgens moontlike depressie, angs en selfskending by adolessente geïdentifiseer kan word. Die vrae is so opgestel en saamgestel dat die antwoorde waarskuwings kan gee vir moontlike risiko-gedrag. Dié inligting registreer by ’n skoolsielkundige wat dan kan intree en met intervensie kan help om ’n leerder vroegtydig te help of te ondersteun.

Die toep is in samewerking met ’n sagtewaremaatskappy vir selfone ontwikkel en die idee is dat skole dit sal gebruik en dat leerders een of twee keer per maand die vraelys (wat nie elke keer dieselfde is nie) sal voltooi sodat diegene met probleme vroegtydig uitgewys en gehelp kan word.

Volgens Gerthyo spruit die projek uit ’n persoonlike ervaring wat hulle gehad het toe ’n vriend van hulle in gr.10 weens selfdood gesterf het. “Ons het gedink dit is baie belangrik dat mense bewus gemaak moet word van die probleme waarmee tieners worstel en dat hulle betyds gehelp moet kan word.”

Die broers meen daar is vandag ontsettend baie druk op leerders om te presteer. Hetsy op akademiese of sportgebied. Sosiale media dra ook by tot hul probleme en onsekerhede en verhoog hul angs en depressie. “Iemand sal byvoorbeeld baie hard werk en 70% behaal, net om op sosiale media te sien dat sy klasmaats oor naweke ontspan of uitgaan maar steeds 90% kry. Dan begin jy in jouself twyfel.”

Hulle meen ekonomiese omstandighede speel ook ’n rol en leerders is nie altyd al volwasse genoeg om hierdie “grootmens-probleme” te hanteer nie. “Baie leerders is bekommerd dat hulle nie eendag werk gaan kry of in die regte beroepe gaan wees om genoeg geld te maak om vir hulself te sorg of hul ouers te help nie.”

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap, beaam dat leerders dikwels baie moeilike en ingewikkelde emosies op skool en tuis ervaar. “Angs, depressie en selfdood is dikwels ook die gevolg van afknouery in skole en daarom het AfriForum ’n teenboelieveldtog om leerders weerbaar te maak.”

Sy meen hierdie toep kan beslis bydra om te help om probleme vroegtydig by leerders te identifiseer.

Gerthyo en Wilando se idee van ’n vraelys wat op ’n selfoon voltooi kan word, spruit ook uit hul ervaring tydens Covid-19 toe hulle elke week vrae moes antwoord oor hul gesondheid voordat hulle tot die skool toegelaat kon word.

Hoewel die twee in sielkunde belangstel en omdat hulle blootgestel is aan die werk van hul ma, prof. Ronél Ferreira, ’n dosent en opvoedkundige sielkundige by die Universiteit van Pretoria, het hulle ander toekomsplanne. Gerthyo wil elektroniese ingenieurswese studeer en Wilando aktuariële wetenskap.

Vir eers hoop hulle egter dat hul toep duisende, voorlopig eers net hoërskoolleerlinge, sal help en dat soveel skole moontlik dit sal gebruik.

Volgens die twee is Chris Denysschen, hoof van Hoërskool Waterkloof, baie positief en opgewonde oor hul projek. Die skool sal na verwagting die eerste wees om die toep te gebruik sodra die finale ontwikkeling daarvan afgehandel is.

Soortgelyke plasings