|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek weer op verskeie gebiede toegetree en het onder meer inligting oor Afrikaans vir opname in die Wêreldatlas van Tale van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) voorsien.

AfriForum is verder ook van mening dat die ontstaan en verdere agteruitgang van onderwys in die land voor die deur van die Departement van Basiese Onderwys geplaas kan word. Dit volg nadat die departement die bevindings van die Centre for Development and Enterprise (CDE) se verslag oor die noodtoestand waarin onderwys in die land verkeer, ontken het.

Nog twee topbestuurslede van Spar staan moontlik ook tereg op aanklagte van bedrog en meineed vir hul betrokkenheid by die beweerde onwettige oorname van Spar-supermarkte wat deur die Giannacopoulos-groep besit en bedryf word. Die Giannacopoulos-groep het AfriForum se privaatvervolgingseenheid verlede jaar genader.

Die Hooggeregshof in Pretoria het teen die Suid-Afrikaanse regering se aansoek beslis om die privaatvervolgingseenheid se mandamus-aansoek om te keer. Dié saak hou verband met ’n bevel wat die regering verplig het om met hul eweknieë in Botswana saam te werk in ’n ondersoek wat hooggeplaaste Suid-Afrikaanse politieke figure by beweerde misdrywe in Botswana betrek.

Die Gelofte: ’n Musiekblyspel, wat verlede jaar in die AfriForum Teater opgevoer is, het tien nominasies in verskeie kategorieë van die Naledi-teatertoekennings vir 2022 ontvang.

Die Besigheidsbytjiesspan het in samewerking met Akademia ’n seminaar aangebied vir ywerige, jong entrepreneurs om vanjaar se Besigheidsbytjieskompetisie af te skop. Inskrywings vir dié entrepreneurkompetisie sluit op 31 Mei 2023.

AfriForum se Groblersdal-tak het ’n herwinningsprojek begin en drie herwinningspunte is onderskeidelik by die Klouter Klitsies Kleuterskool, die CVO Gromar Landbou Akademie se koshuis en by hierdie skool se kantoorarea opgerig. Hierdie projek vorm deel van die herwinningsnetwerk in Groblersdal.

Die Warmbad-tak het die ingange na Bela-Bela vanaf die R516 en R101 skoongemaak, asook agter die munisipale gebou en die ou kliniek. Hulle het ook die gras in Grobler- en Robertsonstraat gesny en vullis opgetel.

In Bothaville werk die tak saam met die Nala Plaaslike Munisipaliteit, die Mieliehoofstad-sakekamer en Trots Bothaville om slaggate in die dorp te herstel. 53 ton teer is reeds gebruik om slaggate in Presidentstraat te vul.

Die tak in Rustenburg het ook begin om slaggate in Watervallaan en Lucasstraat op te vul om motoriste se veiligheid te verbeter.

Die Weskus-tak het saam met meer as 30 gemeenskapslede vullis op die strand by Spreeuwalle in Langebaan opgeruim en een stortbak daarmee volgemaak.

In Sasolburg het die tak onverpoosd gewerk om die dorp te verbeter en 25 ha se gras is gesny. Dié tak se buurtwag was ook bedrywig en het onder meer patrollies gehou by die substasies en groenstroke tydens geskeduleerde kragonderbrekings.

Die buurtwag in Kimberley het saam met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum twee verdagtes vasgetrek wat probeer vlug het nadat hulle saam met nog vier ander verdagtes ’n gebou geplunder het.

Soortgelyke plasings