Watersabotasie in Margate: Beloning uitgeloof, Menseregtekommissie genader


Die AfriForum-tak in Margate bied ’n beloning van R10 000 aan vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle vervolging van persone wat die watertoevoernetwerk in die dorp saboteer of beskadig. Dié AfriForum-tak het ook ’n klag by die Menseregtekommissie teen munisipale werkers van die Ugu Distriksmunisipaliteit aanhangig gemaak nadat verskeie waterpype en -kleppe tydens ’n onlangse staking vermoedelik deur munisipale werkers beskadig is. Munisipale werkers het skynbaar ook beheer oor die watertoevoernetwerk geneem en verhoed dat enige water aan die gemeenskap voorsien word.

“Ons vermoed dat die watervoorsieningsnetwerk gesaboteer word sodat individue en groepe by moontlike kontrakwerk kan baat vind. Dít en die munisipale werkers se aksies is ’n skending van menseregte, want elkeen het die reg op toegang tot water. Dit is ook waarom ons besluit het om ons tot die Menseregtekommissie te wend,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
“Besighede in die Ugu Distriksmunisipaliteit ly jaarliks ernstige skade weens toeriste wat hul verblyf kanselleer omdat daar geen watertoevoer is nie. Dit is uiters nadelig vir die plaaslike ekonomie en daarom het ons besluit om ’n beloning vir inligting in dié verband uit te loof,” sê Adolf Oosthuizen, AfriForum se Margate-takvoorsitter.

AfriForum nooi enigeen wat inligting in hierdie verband het om na vore te kom. Inligting sal vertroulik hanteer word en kan by Wessel Pretorius by 082 318 6195 aangemeld word.
Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke deur jou naam na 45267 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings