|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se Brits- en Pretoria-Wes-buurtwag het in samewerking met die SAPD vier vermeende plaasaanvallers vasgetrek en gesteelde items teruggevind nadat ’n bejaarde egpaar op hul plaas aangeval en beroof is. Die Brits-buurtwag het spoedig gereageer toe die noodroep op AfriForum se radionetwerk deurgekom het en was eerste op die toneel. Die plaaslike AfriForum-traumaberadingvrywilligers is ook na die toneel ontbied om die slagoffers te ondersteun.

Die organisasie beskou die Departement van Korrektiewe Dienste se kwytskelding van oudpres. Jacob Zuma as ’n belediging vir geregtigheid en die oppergesag van die reg nadat Zuma Vrydagoggend weer vrygelaat is nadat hy slegs ’n paar uur in die tronk was.

Uitspraak is voorbehou in die Hooggeregshof in Pretoria in AfriForum se hofstryd om die vyfjaargeldigheidstydperk vir rybewyse ongrondwetlik te laat verklaar.

AfriForum het weer beklemtoon dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) onderwys in die land ingrypend sal skaad indien dit in die huidige formaat aanvaar word. Dít volg nadat ’n verslag bekend gemaak is wat aandui dat daar groot steun is vir dié wetsontwerp.

Altesaam 96 junior en 108 senior leerders van 13 skole het aan die noordstreekuitdunrondte van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie deelgeneem. Afrikaans Hoër Seunskool was die wenners van die senior kategorie terwyl Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria eerste geëindig het in die junior kategorie.

Die privaatvervolgingseenheid het in die lig van Vrouedag ’n stem aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld gegee oor die gebrekkige strafregstelsel wat die mees kwesbares in die samelewing herhaaldelik in die steek laat. Dít nadat Zakiyah Karim, wat die eenheid genader het, se man slegs liggies oor die vingers getik is ná hy aangekla is van poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die burgerregteorganisasie het verder geëis dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die Departement van Water en Sanitasie onmiddellik moet optree om watervoorsiening aan inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville te herstel nadat sommige gebiede vir twee weke sonder water was. Die Parys-tak het ook ’n dringende brief aan die waarnemende munisipale bestuurder gestuur waarin versoek word dat die rioolbesoedeling dringend gestop moet word.

AfriForum het hulp aan die Tshwane-metro gebied sodat die probleme wat ervaar word met vullisverwydering uit die weggeruim kan word.

Die Munisipale Afbakeningsraad het besluit om nie die Rustenburg- en Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit saam te smelt nie. AfriForum verwelkom dié besluit nadat die organisasie vroeër vanjaar kommentaar ingedien het teen die beoogde verandering.

Die Rustenburg-tak het die ou begraafplaas in Kockstraat en die oop veld by die Bobbies Rugbyklub skoongemaak.

AfriForum se Hessekwa-tak en gemeenskapslede het saam met die Hessequa Plaaslike Munisipaliteit ’n skoonmaakprojek by ’n staproete naby die Heidelbergdam aangepak. Hulle het meer as 20 sakke rommel verwyder.

Die Kaapstad-Noord-buurtwag het twee vermeende diewe vasgetrek en aan die polisie oorhandig nadat daar by ’n inwoner van Meathstraat ingebreek is, asook by die Herbert Street Special School.

Die Brits-tak het twee herhalers opgerig wat kommunikasie verder sal verbeter. Die twee nuwe herhalers stel taklede in staat om duidelik en vinnig met Brits se Gemeenskaplike Operasionele Sentrum (GOS) te kommunikeer.

Die Westonaria-tak het 300 verskillende vervormbare koperbeslagpype (ferrules), ’n boks isoleerband, 200 verskillende koperdraadkloue en 200 meter koperkabel aan die Rand West Plaaslike Munisipaliteit in Westonaria geskenk.

Danksy volgehoue druk deur AfriForum se Klerksdorp-tak en talle ander beswaarmakers het ’n ontwikkelaar sy aansoek onttrek om 4 702 erwe op die plaas Palmietfontein 403, wat aan Doringkruin grens, te ontwikkel. ’n Beswaarskrif is vroeër by die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit ingedien toe dit aan die lig gekom het dat die nodige openbare deelname prosesse nie gevolg is nie.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het leerders aan die Laerskool Kenmare, die Clearview-tutorsentrum en Protie Kleuter Akademie in Krugersdorp besoek om hulle bewus te maak van afknouery.

Soortgelyke plasings