|

AfriForum en TKAG wil appelleer teen hidrobreking-uitspraak

Die Noord-Gautengse hoë hof het AfriForum en Treasure the Karoo Action Group (TKAG) se gesamentlike aansoek om die regering se voorgenome hidrobrekingregulasies nietig te verklaar, van die hand gewys.

AfriForum en TKAG het in hul aansoek aangevoer dat die minister van minerale bronne nie gemagtig was om die 2015 regulasies rondom hidrobreking uit te vaardig nie, dat dié opgestelde regulasies van 2015 op Amerikaanse hulpbronne gebaseer was en nie geskik is vir Suid-Afrikaanse omstandighede nie. Hulle het verder aangevoer dat die publieke deelnameproses rondom die regulasies onvoldoende was en dat die regulasies geen regsmag het nie.

Waarnemende regter E.F. Dippenaar het in haar uitspraak gesê dat samewerkende regering in die opstel van regulasies ter sprake is en dat die minister van minerale bronne dus nie alle omgewingskwessies reguleer nie.

Sy het gesê die One Environmental System Agreement (OESA) bestaan vir die regulering van die ontginning van minerale en petroleumhulpbronne en dat die ministers van minerale bronne en omgewingsake dus in hierdie opsig saamwerk. Die regulasies is op 3 Junie 2015 gepubliseer en sy meen die applikante kon toe reeds ’n hersieningsaansoek daarteen gebring het.

Dippenaar het gesê die applikante kon ook nie bewys dat die regulasies die OESA oortree nie

Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, sê  AfriForum en TKAG volstaan dat die regulasies op verskeie gronde onregmatig is.

Die burgerregtewaghond en die TKAG wil teen die uitspraak appelleer.

Ondanks dít, het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, onlangs in die parlement aangekondig dat aansoeke om skaliegas in die Karoo te ontgin bespoedig sal word.

Hy het tydens sy toespraak in die departement se begrotingsdebat gesê dat die suidelike Karoo-bekken een van die mees prospekteerbare gebiede vir skaliegasontginning is.

Volgens Mantashe is daar ’n berekende 205 miljard kubieke voet (kv) wat ontginbaar is, terwyl voorste wetenskaplikes van mening is dat daar dalk tussen 13 en 30 miljard kv is.

Dit volg kort nadat Shell Suid-Afrika onlangs aangekondig het dat hulle skaliegasontginning in die Karoo gaan afskaal. Dineo Pooe, Shell se Suid-Afrikaanse woordvoerder, het gesê dat Shell weens die lae olieprys genoodsaak is om hul projek af te skaal.

Shell het aanvanklik aangedui dat hul ongeveer 485 miljard kv gas in die Karoo sou kon onttrek – ’n syfer wat volgens hulle ook intussen na minder as 30 miljard kv gedaal het.

Shell het ook volgehou dat honderde duisende werksgeleenthede geskep sou word, maar die regering se eie studies dui egter slegs op ’n moontlike 3 000 werksgeleenthede, waarvan slegs 15% deur plaaslike Suid-Afrikaners gevul sou word.

Boonop wag Shell nog vir duidelikheid oor die wet op die ontwikkeling van minerale en petroleum-hulpbronne, tegniese regulasies en die uitslag van die toekenning van eksplorasieregte.

Peninsula Energy, ’n Austaliese mynhuis, wat uraan in die Karoo wou myn, het ook intussen sy projek onttrek.

Volgens Pawson moet Mantashe besef die tyd vir skaliegasontginning is verby.

Luidens mediaberigte sal Mantashe binnekort ’n kennisgewing ingevolge die Wet op die Bevordeing van Administratiewe geregtigheid in die staatskoerant oor die explorasie van skaliegas publiseer.

Soortgelyke plasings