|

Weskus-tak blom

AfriForum se Weskus-tak het verlede jaar in samewerking met lede van die Longacres Huiseienaarsvereniging ’n inisiatief begin om borde by veldblomme op die landgoed op te sit met die naam en agtergrond van die veldblomme. Die borde is oral langs ’n staproete geplaas sodat besoekers aan die landgoed dit kan lees. Die tak het ook ’n bord opgerig met inligting oor die tak self.

Vanjaar is dié projek uitgebrei en nog borde is by blomme opgerig. Die staproete bied ’n wonderlike geleentheid om die unieke plante en blomme in hul natuurlike habitat te sien en meer kennis daaroor op te doen. Die roete is ongeveer 2 km lank en enigiemand, jonk of oud, kan dit maklik stap.

“Ons beplan om nog inheemse boomsoorte langs die roete te plant, en individue en ondernemings is welkom om ons te help plant. Dié bome word voorsien deur kwekerye in Wolseley en Grabouw wat dit ten doel het om teen 2025 tien miljoen bome te plant,” sê Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak.

“Vanjaar is ’n besonder goeie jaar om die blomme te kom besigtig. Die Weskus-tak nooi die publiek uit om die roete op Sondag 20 Augustus vanaf 11:30 te kom stap. Dít sal ook die amptelike inwyding van die staproete wees. Charmaine Loubser, onderburgemeester van die Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteit, sal die verrigtinge met ’n kort boodskap open,” sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Weskus.

Kontak gerus vir Sidney Monk by 082 802 2349 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings