|

Standerton-tak skroom nie om hand by te sit

Die AfriForum-tak in Standerton se hande staan vir niks verkeerd nie en dit is opnuut bewys in die manier hoe hierdie tak in die afgelope twee weke met misdaadbekamping gehelp het en hand by gesit het toe inwoners en ondernemings raadop was.

Die tak het Maandag (12 Februarie) ’n nuwe LPR-kamera buite die dorp opgerig wat van kunsmatige intelligensie gebruikmaak om nommerplate te ontleed. Dié kamera is aan ander kameras op die dorp gekoppel en word deurlopend deur Kasselman Security Services gemonitor. Die netwerk van kameras help om boosdoeners te identifiseer en wetstoepassers oor hul teenwoordigheid op die dorp in kennis te stel. Talle misdadigers is reeds met behulp van die kameras in hegtenis geneem.

“Daar is egter sekere dele van die dorp wat kameras kort, maar AfriForum se Standerton-tak is daartoe verbind om nog kameras te laat installeer sodat die stryd teen misdaad voortgesit kan word,” sê Leon Enslin, AfriForum se voorsitter van die Standerton-tak.

Die plaaslike AfriForum-buurtwag het ook gereeld patrollies by brandpunte van kabeldiefstal gery. Die patrollies en die alarmstelsels wat die tak in oorleg met Kasselman Security Services by verskeie substasies laat installeer het, het verseker dat boosdoeners se planne om die dorp se infrastruktuur te buit, gefnuik is. Danksy dié optredes is daar ’n afname in die aantal onbeplande kragonderbrekings opgemerk.

Met die aanvang van Februarie was daar talle klagtes oor die haglike toestand van die paaie om die dorp se skole. Die slaggate het nie net verkeersknope veroorsaak nie, maar ook skoliere se veiligheid bedreig deurdat motoriste gereeld vir slaggate moet uitswaai. Die Standerton-tak het ingegryp en altesaam 70 sakke teer gebruik om die slaggate om die skole te vul.

Die tak het op 6 Februarie ook hand by gesit toe die Standerton Golf & Country Club se krane leeggeloop het en die gholfbaan dringend besproei moes word. Die tak het etlike liters water met bakkies aangery en daarmee die gholfbaan nat gespuit. Indien die tak nie ingegryp het nie sou daar groot skade aan die baan gewees het.

“Ons staan nie terug vir Standerton se probleme nie, en met elke poging wat aangewend word, maak ons ’n verskil in inwoners se lewens,” sê Enslin.

Inwoners kan die gemeenskap help ondersteun deur by AfriForum se Standerton-tak betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za om meer te wete te kom.

Soortgelyke plasings