|

Ruvan Olivier eindelik in hof nadat hy na bewering fietsryer doodry

Ruvan Olivier, die beskuldigde in die dood van die fietsryer Nino Oppel, het vandag in die Krugersdorp Streekhof verskyn op klagtes van strafbare manslag, poging tot regsverydeling en vele oortredings van die Padverkeerswet. Landdros Keith Page het die saak uitgestel tot 3 Junie 2022 vir finalisering van die uitstaande ondersoek. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans die Oppel-familie ondersteun, omvattende vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng (DOV) geskryf het nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik aangedui het dat hulle weens ’n gebrek aan ’n behoorlike ondersoek nie vervolging gaan instel nie.

Oppel het in 2018 deelgeneem aan die bekende Berge en Dale-fietswedren in Muldersdrift, Gauteng, toe die beskuldigde hom klaarblyklik met sy voertuig getref en weggejaag het.

Micky Thesner, die aanklaer in die saak, het vandag in die hof gesê dat sy gister ’n vergadering met AfriForum se privaatvervolgingseenheid se ondersoekspan gehad het en dat die eenheid haar help met die ondersoek omdat die SAPD versuim om ’n speurder te allokeer om die saak na behore te ondersoek.

“Ons verwelkom die feit dat die beskuldigde uiteindelik in die hof moes verskyn en ons sal voortgaan om die NVG te help om toe te sien dat geregtigheid geskied. Die Oppel-familie verdien geregtigheid vir Nino se dood en ons sal ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag van die familie verseker dat hierdie saak die nodige aandag geniet,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings