|

Hof hoor hoe Jaco Swart uit Suid-Afrika vlug, na bewering met vriend se paspoort

AfriForum se privaatvervolgingseenheid was vandag in die Kuilsrivier-landdroshof vir die private vervolging van gevonnisde vroueslaner, Jaco Swart. Die eenheid verteenwoordig ’n vroulike polisiebeampte wat na bewering deur Swart aangerand is.

Daar was na bewering ’n voorval die oggend van 13 Januarie 2022 waartydens die klaer se buurvrou haar om hulp geroep het omdat haar vriend, Swart, na bewering dronk was ná ’n aand uit en geweier het om haar woonstel te verlaat. Swart het in ’n stadium na bewering die veiligheidshek gesluit en die vrou verhinder om haar woonstel te verlaat. Die klaer het haar hand deur die veiligheidshek gedruk en Swart aangesê om nie die deur toe te maak nie. Ten spyte hiervan en met die wete dat die klaer ’n polisiebeampte was, het hy na bewering geweld gebruik en die deur op haar arm toegeslaan en ’n sening in haar arm beskadig. Sy het die polisie se hulp ontbied en Swart het uiteindelik die eiendom verlaat.

Swart was nie vandag in die hof nie. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n aansoek gebring om die saak in Swart se afwesigheid uit te stel of alternatiewelik dat ’n lasbrief vir Swart se arrestasie uitgereik word omdat hy uit die land gevlug het.

Nel het adjudant-offisier Riaan Booysen geroep om aan die hof te verduidelik waarom ’n dagvaardiging nie aan Swart beteken kon word nie. Booysen is die ondersoekbeampte in ’n onverwante saak van bedrog teen Swart. Tydens die ondersoek het hy vasgestel dat Swart ’n vriend se paspoort gebruik het om Suid-Afrika deur die Lebombo-grenspos te verlaat voor hy sy weg na die Verenigde Koninkryk gevind het.

Booysen het aan die hof vertel dat hy met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) konsulteer het oor die moontlikheid om Swart uit te lewer, maar daar is vir hom gesê dat dit te moeilik gaan wees om te doen want dit kom neer op “te veel papierwerk”.

Nel het aangevoer, “dit is nie net ’n duidelike voorbeeld van pligsversuim deur die NVG nie, maar die klaer word hierin skandelik gefaal. Hierdie mislukking van die NVG belas nou die burgerlike samelewing en private aanklaers met die plig om te verseker dat geregtigheid geskied, en dat skuldige mense nie vervolging kan vryspring net omdat dit te omslagtig is om hul bywoning in die hof te verseker nie.”

Nel het aangevoer dat die versekering van ’n uitlewering nie buite die NVG se vermoë is nie, en het verwys na die onlangse Thabo Bester-aangeleentheid waarin senior regeringsamptenare en politici na die buiteland gereis het om daardie beskuldigde na die land terug te bring. Die enigste verskil tussen die twee sake is dat die Swart-aangeleentheid nie dieselfde media-aandag as die Bester-aangeleentheid gekry het nie.

Die saak is uitgestel tot Maandag, 21 Augustus, vir uitspraak.

Soortgelyke plasings