|

Dink of Sink-debatskompetisie begin op hoë noot by DF Malan

Die suidelike streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het op 12 Mei uitnemende debatte opgelewer en gesorg vir naelbyt-eindstryde in beide die junior en senior kategorieë. Die Hoërskool DF Malan was andermaal die gasheerskool van die kompetisie wat deur AfriForum geborg word.

Hierdie was die eerste uitdunrondte in die jaarlikse kompetisie waarna vier verdere uitdunrondtes sal volg. Die finaal om die nasionale wenspanne te kroon sal op 7 Oktober 2023 in Centurion plaasvind.

Volgens Gert Visser, die hooforganiseerder van die Hoërskool DF Malan, groei die suidelike streeksuitdun jaarliks in gewildheid – Vrydag het 174 leerders van 17 Wes-Kaapse skole deelgeneem. Dié skole is DF Malan, Stellenberg, Langenhoven, Hugenote, Durbanville, Parow, Bellville, Jan van Riebeeck, Parel Vallei, Stellenbosch, Tygerberg, Swartland, asook die Hoër Meisieskool Bloemhof, Paul Roos Gimnasium, Worcester Gimnasium, Paarl Gimnasium en die Hoër Meisieskool La Rochelle.

In die kategorie vir junior hoërskoolleerders het twee spanne van die Hoërskool Durbanville in die eindrondte teen mekaar te staan gekom. Die tweeling Angelique en Genevive Myburgh en hul spanmaat Lenae le Roux het as wenners uit die stryd getree met Elzette Bester, Alberto Cloete en Kian Lombard in die tweede plek.

In die senior kategorie was die wenners André Venter, Leah Coetzee en Alexander Volschenk van die tuisspan van DF Malan met Chrystan Wagenstroom, Miné Malan en Mila Kotzé van die Hoër Meisieskool Bloemhof as naaswenners.

Die finale debatte het tydens ’n gala-geleentheid plaasgevind. Die beoordelaars was Danie van der Merwe, Anita Voges, Erna Steenkamp, Marita Nel en Elbie Adendorff wat die moeilike taak gehad het om wenners uit die spitsvondige, welsprekende deelnemers aan te wys. DF Malan se kamerkoor het die gehoor tussen die debatte vermaak.

AfriForum as borg van die kompetisie en aanbieder van die nasionale finaal is deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, en Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, verteenwoordig. Hulle het hulle dank teenoor al die deelnemers, die Hoërskool DF Malan en in die besonder aan Visser oorgedra vir die insette wat verseker dat die kompetisie jaarliks nuwe hoogtes bereik.

“Vanjaar se spanne se kennis van aktuele sake en hulle debatsvernuf het ons opnuut beïndruk. Debattering is ’n vaardigheid waarby enige leerder baat. Ons is bly dat die aantal deelnemers toeneem en sien uit na die res van die jaar se kompetisies,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings