|

Witbank-tak sit projek voort om seer oog-veld op te knap

AfriForum se Witbank-tak in Emalahleni het in September ’n projek in die berugte oop veld by Woltemadestraat voortgesit.

Die tak het met behulp van ’n gehuurde laaigraaf die hope grond platgestoot en die gate toegemaak. Hierdie projek is oor ’n paar maande aangepak en die finale deel van die projek is net om gras te vestig en dit kort te hou sodat die misdadigers nie meer daar kan wegkruip nie.

Die oop veld is al vir jare ’n seer oog in Emalahleni nadat daar konstruksiewerk aan waterlyne gedoen is maar die oorblywende grond op ’n hoop gelaat is. Die pype is ook op baie plekke oopgelaat en daar is oral wegkruipplekke vir misdadigers en haweloses, terwyl dit ook ’n gereelde plek geword het waar kabeldiewe bedrywig is. Die gras het ook wild begin groei en bosse het die hele area oorgeneem. Die stuk veld is deur die Emalahleni-munisipaliteit en die plaaslike SAPD, wat agter die veld geleë is, agterweë gelaat want niemand wou verantwoordelikheid vir die instandhouding daarvan neem nie.

“Ons is dankbaar dat die veld nou beter lyk en sal toesien dat die gras en bosse nie handuit ruk nie,” sê Alfred Friess, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

Inwoners word versoek om AfriForum se Witbank-tak te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings