|

Delportshoop-tak knap dorp op

AfriForum se Delportshoop-tak, wat op 2 April gestig is, is stelselmatig besig om momentum op te bou en het besluit om ’n projek van stapel te stuur wat op spesifieke probleemareas fokus. Hierdie aksie maak deel uit van dié tak se volhoubare skoonmaakprojek waarmee die takbestuur poog om Delportshoop weer in ’n pragdorp te verander.

Ná verskeie klagtes is daar in Julie besluit om die hoek van Pretorius- en Venterstraat, asook die substasie in Bredenkampstraat te takel. Gras by dié T-aansluiting is gesny om sig te verbeter en ’n nuwe stopteken is opgerig. Die area rondom die substasie se gras is ook gesny en skoongemaak om toeganklikheid te verbeter. Verder is die dorp se hoofingang, asook verskeie dreineringslote en kragbokse onder hande geneem. Dié projek word deur Ben Venter en sy span gelei.

“Ek waardeer die ondersteuning van die taklede en vra dat almal my en my span sal help om die skoonmaakprojek suksesvol uit te brei. Ek wil ook graag almal bedank wat skenkings gemaak het; sonder julle hulp sou die projek nie moontlik gewees het nie,” sê Venter.

Delportshoopstraat by die hoofpad is in Junie skoongemaak om sigbaarheid en sodoende veiligheid te verbeter. ’n Stopteken is opgerig, dreineringslote is skoongemaak en  43 slaggate is in Delportshoopstraat opgevul. Hierdie slaggate is opgevul danksy ’n skenking wat die tak ontvang het.

In Mei het die tak Kruger- en Buysstraat getakel en bosse verwyder om sigbaarheid by die besige kruising te verbeter. In April is daar op Hanekomstraat gefokus en altesaam 15 vragte rommel en vullis is met ’n bakkie en ’n 3 ton-sleepwa weggery.

“Dit is lekker om te sien hoe die gemeenskap hande vat om ’n verskil in die dorp te maak,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Soortgelyke plasings