Zuma moet by die tronk aanmeld.

Die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein het  voormalige president Jacob Zuma se appèl teen ’n hooggeregshofuitspraak, wat die burgerregteorganisasie AfriForum bekom het dat sy mediese parool onwettig toegestaan is, met kostes van die hand gewys. Die appèlhof het egter wel die vroeëre hooggeregshofbevel ter syde gestel dat die tyd wat Zuma buite die tronk op mediese parool spandeer het nie van sy vonnis afgetrek kan word nie, maar die bevel van die Hooggeregshof dat Zuma moet terugkeer na die Estcourt gevangenis, gehandhaaf.

Zuma is in Junie 2021 tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis, nadat hy versuim het om voor die Zondo-kommissie oor staatskaping tydens sy presidentskap te verskyn. Zuma het aan die einde van Julie 2021 sy vonnis begin uitdien, maar is op 5 September 2021 op mediese parool vrygelaat. Die destydse Nasionale Kommissaris vir Korrektiewe Dienste, Arthur Fraser, het die mediese parool goedgekeur alhoewel die mediese paroolraad bevind het dat Zuma nie vir mediese parool gekwalifiseer het nie. AfriForum het in Desember 2021 ’n hooggeregshofuitspraak bekom dat Zuma se mediese parool onwettig toegestaan is en dat die tyd wat Zuma buite die tronk op mediese parool spandeer het nie van sy vonnis afgetrek kan word nie. Zuma het die saak op appèl geneem.

Die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak beteken dat twee howe bevind het dat Zuma nooit mediese parool moes ontvang het nie. Die feit dat Zuma wel mediese parool ontvang het, al het hy nie daarvoor gekwalifiseer nie, wys dus daarop dat prominente politici voorkeurbehandeling by korrektiewe dienste ontvang. Die grootste klug is egter dat Zuma, wat ’n jaar gelede nog skynbaar terminaal siek was, nou weer aktief by politiek betrokke is en poog om ’n hoë posisie in die ANC te beklee.

Soortgelyke plasings