|

AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark help om misdadigers agter tralies te sit

Die flink en vasberade optrede van die AfriForum-buurtwag en ander rolspelers in Vanderbijlpark het daartoe gelei dat drie diewe vir lank tronk toe gestuur is.

Tebogo Masalego en Sechaba Chiloane is verlede maand skuldig bevind aan huisbraak, diefstal en die besit van gesteelde eiendom. Hulle was onder meer in besit van ’n gesteelde motor en tien televisiestelle. Hulle is elkeen tronkstraf van sewe jaar opgelê.

Hulle is in April 2015 aangekeer nadat hulle by verskeie wonings ingebreek het.

Cor Schönborn, voorsitter van die buurtwag het een van die mans self gearresteer, terwyl ander gemeenskapslede ook by die aksie betrokke was. Die mans is toe aan die polisie oorhandig.

Pule Malane is in April 2016 in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig. Hy moet ses jaar tronkstraf vir diefstal uitdien.

Schönborn het die sukses aan goeie samewerking tussen die gemeenskap en die polisie toegeskryf. Hy het gesê die oortreders sou nie suksesvol vervolg kon word as dit nie vir die polisie se deeglike opvolg- en ondersoekwerk was nie. “Hierdie sukses is ook ’n aanduiding dat buurtwagte suksesvol kan wees wanneer daar pro-aktief opgetree word en die gemeenskap saamstaan teen misdaad. Die feit dat die mans gevang is, het ander mense ook aangespoor om by die buurtwag betrokke te raak.”

Wico Swanepoel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid, meen die buurtwag in Vanderbijlpark doen uitstekende werk en het gewys hoe misdaad hokgeslaan kan word waar mense saamwerk.

Die drie diewe word ook met ander huisbrake verbind wat nog ondersoek word.

AfriForum se veiligheidspan rol ook van 29 September tot 1 Oktober sy gemeenskapsveiligheidstrategie, Projek Nehemia, verder in Vanderbijlpark uit.

Genl.maj. Roland de Vries, konsultant vir Projek Nehemia, en ander rolspelers sal die gemeenskap bemagtig en inlig oor hoe daar nog meer suksesvol teen misdaad opgetree kan word as daar voldoende kommunikasie, hulpbronne en samewerking in ’n gemeenskap is.

Lede van die publiek wat die vergadering wil bywoon, kan ’n e-pos stuur na Wico@afriforum.co.za of Hillel@afriforum.co.za

 

Soortgelyke plasings