|

BOEK OOR SLAG VAN DONKERHOEK WERP LIG OP WAAGMOED VAN BOERE MEER AS 120 JAAR GELEDE

Deur Alet Rademeyer

Die geskiedenis oor die Slag van Donkerhoek (ook genoem Diamond Hill), wat op 11 en 12 Junie 1900 plaasgevind het, gee Afrikaners vandag nog hoop as gekyk word na die deursettingsvermoë en waagmoed wat die Boere tydens die veldslag aan die dag gelê het teen die magtige Brittanje.

Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog beskryf ’n skynbaar hopelose oomblik in die Afrikaner se verlede.

Ten tyde van die Slag het die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) reeds ’n hele paar maande gewoed. Die Boerekrygers was moeg en hul moreel laag. Op 31 Mei 1900 het die voorste krygsleiers van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aanbeveel dat ’n vredesaanbod aan die Britse bevelvoerder gemaak word. Hulle was oortuig dat die krygsmoreel en vegvermoë van die ZAR se krygsmag in so ’n mate in duie gestort het dat hulle nie meer in staat was om die veroweraar van hul land te weerstaan nie.

Die reaksie van hul Vrystaatse bondgenoot het hulle egter as’t ware gedwing om die stryd teen wil en dank voort te sit. Aan die einde van die tweedaagse veldslag kon die ZAR se bevelvoerder, kmdt.genl. Louis Botha, aan pres. Paul Kruger rapporteer dat “ik onze menschen nog nooit mooier heb zien staan”.

Die afloop van die veldslag was teen alle verwagtinge in en inderdaad ’n keerpunt vir die Boere en Britse magte. Dit het ’n bydrae gemaak om die Boere se moreel weer te versterk. Nadat hulle keer op keer aangeval is, kon hulle tydens dié veldslag vir twee dae lank die Engelse teë hou en kon hulle weer aangaan. Waar hulle gereed was om oor te gee, kon hulle ná die veldslag nog vir byna twee jaar voortveg.

Prof. Fransjohan Pretorius, historikus en projekleier van Kraal Uitgewers se Kraal Histories-reeks, en Andries Breytenbach, skrywer van die boek, het vandag tydens ’n regstreekse aanlynsessie gedagtes oor dié histories belangrike gebeurtenis en die skryf van die boek uitgeruil. Dié boek is die derde in dié reeks.

Pretorius meen die Slag van Donkerhoek het nog nie die aandag van die publiek gekry wat dit verdien nie. “Dit maak ’n mens hartseer om te dink mense ry daagliks by die terrein verby, maar hulle weet nie wat daar gebeur het nie. Dit is ’n wonderlike verhaal en beslis ’n aanwins dat dit nou vir mense in boekvorm beskikbaar is.”

Die boek is ’n verwerking van Breytenbach se MA-verhandeling wat hy in 1979 aan Unisa behaal het. Hy het van kindsbeen af ’n sterk bewussyn van die Afrikaner se geskiedenis, politiek en kultuur. “Ek het in ’n huis grootgeword waar geskiedenis, en die geskiedenis van die volk in die besonder, geleef is.”

Sy pa, J.H. Breytenbach, was staatshistorikus wat opdrag gekry het om die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog) vanuit die oogpunt van die Afrikaner te skryf. “Ek het my belangstelling in die geskiedenis oor die oorlog van my pa geërf en onthou hoe hy vertel het waar die Boere die Engelse opgefoeter het. Ons is geleer om ons eie lief te hê en het deeglik kennis gedra van die wreedheid teenoor die Boere.”

Breytenbach het in 2008 by Krygkor afgetree en deesdae woon hy in Kleinfontein van waar hy kan uitkyk oor die gebied waar die geskiedkundige Slag van Donkerhoek plaasgevind het.

Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog is tot Vrydag (16 April)  teen ’n spesiale prys van R200 beskikbaar. Dit kan bestel word by www.kraaluitgewers.co.za

Soortgelyke plasings