|

AfriForum Jeug herdenk genl. Nicolaas Jacobus Smit in heldeakker

Die Slag van Majuba is die afgelope naweek herdenk en as deel van dié vieringe het AfriForum Jeug vandag die graf van genl. Nicolaas Jacobus Smit in die heldeakker in Pretoria skoongemaak en ’n ruiker ter nagedagtenis aan hom gelê.

Die Slag van Majuba was die laaste van vier militêre botsings tussen Groot-Brittanje en die Boere van Transvaal gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (Desember 1880 – Maart 1881). Dit het op 27 Februarie 1881 plaasgevind. Die klinkende oorwinning – en vernederende neerlaag vir die Britte – wat die Boere behaal het, het die Britte gedwing om Transvaal weer sy vryheid te gee, nadat dit op 12 April 1877 geannekseer is.

’n Gedeelte van die geskiedenis oor wat by Majuba gebeur het en vir Afrikaners tot vandag toe belangrik is, is deur Barend Uys, operasionele hoof: gemeenskapsake by AfriForum, toegelig.

Die span van AfriForum Jeug wat by die skoonmaakaksie betrokke was, is Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, Riaan Jacobs, nasionale koördineerder van kampe, en Ohann Fourie, nasionale koördineerder van kampusstrukture.

Smit het as bevelvoerder by beide Ingongo as Majuba opgetree. Hy het groot vertroue onder sy manne geniet en is later as volksraadslid vir Ermelo en in 1887 tot vise-president verkies. In die buiteland is hy ook hoog geag en deur die Pruise tot Ridder van die Rooi Adelaar geslaan. Nederland het hom ook met die titel Kommandeur van die Orde van die Nederlandse Leeu vereer.

Sy wêreldwye roem is veral te danke aan sy optrede by Majuba op 27 Februarie 1881. Vroeg die oggend het die Britte, onder bevel van genl. George Pomeroy Colley, die plat kruin bo-op Majuba beset. Hulle het gedurende die nag die berg geklim sonder dat die Boere, in hul kampe aan die voet van die berg, daarvan geweet het. Op die suidelike punt van die kruin het Colley ʼn seinfakkel laat brand – die teken aan die kamp by Mount Prospect, dat die Britte die berg beset het.

Aan die westekant van Majuba, het ʼn jong mev. De Jager vanuit die kombuis op hul familieplaas die fakkel op die berg sien brand en onmiddellik besef wat aangaan. Sy het te perd na Majuba-nek gejaag waar sy die boere gewaarsku het dat die Engelse op die berg is.

Genl. Piet Joubert het besef hulle is uitoorlê en het gejaag na sy bevelvoerders. Daar vind hy sy twee generaals Frans Joubert en Nicolaas Smit besig om te twis oor wie se skuld dit is dat die Engelse ongemerk op die berg gekom het. Joubert het bevel gegee dat die Engelse dadelik van die berg afgehaal moet word.

Daarna het een van die mees briljante strategiese beplannings in die militêre geskiedenis plaasgevind. Smit het beveel dat alle mans bo 50 agter die rotse van die eerste plato stelling teen die steilte moes inneem. Hulle moes skiet sodra ’n Brit beweeg. Die ouer mans was ervare skuts.

Intussen moes die jonger mans twee-twee en selfs een-een van struik tot struik en van rots tot rots tot bo beweeg. Dit het omtrent ses ure geneem voor die eerste van die boere onder die regop kranse van die kruin stelling ingeneem het. Vandaar was dit net ʼn kwessie van tyd voor die Boere tot op die kruin beweeg en die Engelse van Majuba afgedwing het.

Die woorde van genl. Smit wat tot vandag onthou word, is nie julle wat dapper is volg my nie, maar wel: “Julle wat geen lafaards is nie, volg my!”

Maree het gesê die aksie is die begin van ’n groot veldtog vir die jeug rondom erfenisbewaring. Jeugtakke sal in die komende maand erfenisprojekte in hul dorpe identifiseer en aanpak. “Dit is belangrik dat die jeug bewus moet wees van hul geskiedenis en erfenis en waar hulle kan, moet hulle betrokke raak om dit te bewaar en te beskerm.”

Soortgelyke plasings