|

(Video) BLF-leier herhaal rassistiese uitlatings buite gelykheidshof waar verhoor moes begin

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), het vanoggend verskeie rassistiese uitlatings buite die gelykheidshof in Johannesburg gemaak waar ’n haatspraaksaak teen hom moes begin.

Mngxitama se regspan het uit die staanspoor laat blyk dat hulle nie gereed is om met die saak voort te gaan nie.

’n Kwessie oor media-instansies wat nie ’n behoorlike proses gevolg het om aansoek te doen om die hofverrigtinge te mag verfilm en uit te saai nie en wat in gebreke gebly het om die partye van hul aansoek in te lig, het na meer as twee uur se gesloer daartoe gelei dat die saak tot 18 en 20 September uitgestel is.

Landdros Nishani Beharie het ingestem dat daar nie met die verrigtinge voortgegaan word nie sodat die media die regte aansoekproses kan volg.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in Desember 2018 klagtes teen Mngxitama ingedien nadat hy tydens ’n toespraak in Potchefstroom die moord op wit mense aangehits het.

Hy het toe onder meer gesê: “We’ll kill their children. We’ll kill their women. We’ll kill anything that we find on our way… We’ll kill their dogs. We’ll kill their cats. We’ll kill anything that comes before us.”

 

Mngxitama het buite die hof gesê hy het die uitlatings gemaak in reaksie op ’n toespraak van die sakeman Johann Rupert. Mngxitama het toe aangevoer dat sy organisasie (BLF) vyf wit mense sal vermoor elke keer wanneer ’n swart persoon in Suid-Afrika vermoor word.

Hy het dié uitlating vandag herhaal en ’n skreiende aanval op wit mense, boere, die Ruperts en Oppenheimers gedoen. Hy het AfriForum daarvan beskuldig dat die organisasie apartheid verdedig en gesê hulle is Hollanders en gronddiewe wat nie in die land hoort nie.

Hy het buite die hof gesê die plek “ruik na Holland” en soos ’n “Boerestad”.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, wat tydens dié hofsaak as ’n deskundige getuie sal getuig, het met verwysing na Mngxitama se uitbarsting en haatspraak buite die hof gesê dit is presies waarom AfriForum die hofaansoek teen hom gebring het sodat hy uiteindelik tot verantwoording geroep kan word.

Soortgelyke plasings