AfriForum bevraagteken haatspraakbevindinge deur persombudsman


AfriForum het sy kommer uitgespreek oor ’n uitspraak van die persombudsman se appèlkomitee in die saak tussen Verashni Pillay en AfriForum. In dié uitspraak, wat vandag gepubliseer is, word aangevoer dat ’n artikel wat vroeër vanjaar op Huffington Post SA gepubliseer is nie op haatspraak neerkom nie.
Daar is in die artikel Could it be time to deny white men the franchise? onder meer aangevoer dat wit mans te veel mag het en dat hulle gevolglik van hul stemreg gestroop en hul eiendom herverdeel moet word. Die appèlkomitee moes hieroor beslis nadat die persombudsman vroeër vanjaar bevind het dat dié artikel wel haatspraak is. Pillay het sedertdien as redakteur van Huffington Post SA bedank, maar ook appèl teen die uitspraak aangeteken.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die organisasie die uitspraak sal bestudeer om oor moontlike verdere optrede te besin, maar dat daar reeds sekere ooglopende probleme met die uitspraak is. Dié probleme sluit die volgende in:

  • Die toets vir haatspraak is nie behoorlik toegepas nie. Die appèlkomitee het bevind dat die artikel nie op haatspraak neerkom nie, onder meer omdat die kans te skraal is dat wit mans van hul stemreg gestroop sal word. Roets verduidelik dat die waarskynlikheid dat iets in die praktyk sal gebeur nie deel van die toets vir haatspraak is nie.
  • Die appèlkomitee het bevind dat die artikel nie op diskriminasie teen wit mans neerkom nie, omdat wit mans as ’t ware in die artikel as “superhuman, powerful and dominant” uitgebeeld word en dat daar dus nie op ’n neerhalende wyse na wit mans verwys word nie. Roets sê dat wit mans nie bloot as bómenslik uitgebeeld word nie, maar eerder as ónmenslik in hul vermoë en vasberadenheid om ander mense te onderdruk. “Dit word allermins as ’n kompliment bedoel. Die woord ‘demonies’ sou in die konteks van die artikel meer beskrywend gewees het as die appélkomitee se woordkeuse van ‘superhuman’.”
  • Die feit dat daar in die artikel aangevoer word dat wit mans se eiendom van hulle ontneem moet word, word nie behoorlik in die uitspraak oorweeg nie.

Roets sê dat Pillay se regsverteenwoordiger gedurende die verhoor aangevoer het dat wit mans inderdaad “disproporsionele mag” het en dat dit in ag geneem moet word in die bevinding of die artikel op haatspraak neerkom, en dat dit lyk of die uitspraak op hierdie argument steun.

“Hierdie suggestie is besonders kommerwekkend. Die Jode in Duitsland, die Armeniërs en Grieke in Anatolië, die Moslems in Serwië en die Tutsis in Rwanda was almal minderheidsgroepe wat oor die algemeen meer welvarend as die meerderheid was. Hierdie groepe was almal die slagoffers van volksmoord of etniese uitwissing onder meer omdat hulle op grond van hulle welvaart, oftewel hul sogenaamde ‘disproporsionele mag’, geteiken was. Die geskiedenis het bewys dat minderheidsgroepe wat oor die algemeen meer welvarend as die meerderheid is, juis dié groepe is wat in besonder beskerm moet word. Om aan te voer dat wit mans nie rede het om te kla nie omdat hulle te veel mag het, is om aan te voer dat die meeste slagoffers van volksmoord of etniese uitwissing in die afgelope eeu vóór hul uitwissing ook nie rede gehad het om te kla oor die feit dat hulle in die openbaar geteiken word nie.”

Soortgelyke plasings