Buurtwagte staan saam teen misdaad in Vanderbijlpark


AfriForum se tak in Vanderbijlpark het op 1 en 2 Desember vanjaar deelgeneem aan die burgerregte-organisasie se nasionale misdaadbekampingspatrollie waar verskillende buurtwaggroepe soos AfriForum, SWAG, SE-buurtwag, Flora Gardens-buurtwag en Mantevrede-buurtwag kragte saamgespan het om van dié aksie ’n sukses te maak.
Die sekuriteitsmaatskappye EMS, Chubb, A-Sec en DAI asook ER24 en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ondersteuning gelewer. In Vanderbijlpark en omgewing het 118 patrolleerders diens gedoen, 65 motorvoertuie en vier motorfietse is gebruik en 2 480 km is afgelê. Slegs drie nie-ernstige misdaadvoorvalle is in hierdie tyd aangemeld.

“Ons is dankbaar vir elke organisasie se ondersteuning en deelname. Deur goeie samewerking kan ons misdaad in ons dorp net nóg beter voorkom en beveg. Moenie onbetrokke wees nie – dit maak van jou ’n maklike misdaadteiken,” sê Adriaan le Roux, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-tak.

Mense wat graag by die tak se aksies en projekte betrokke wil raak, kan ’n e-pos stuur na afriforumvdb@gmail.com.
Sluit vandag nog by AfriForum se Vanderbijlpark-tak aan: SMS “Vdbp” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings