AfriForum se Oos-Moot-tak maak spruit in 26ste Laan skoon

AfriForum se Oos-Moot-tak het op 29 Februarie 2020 die Louis Trichardt-spruit in 26ste Laan in samewerking met die stadsraad en plaaslike ondernemings skoongemaak. Dít volg nadat inwoners hul kommer uitgespreek het oor dwelmhandel en ander misdaad wat in die omgewing van die spruit plaasvind.

In die week voordat die spruit skoongemaak is, het ’n verdagte wat in die spruit woon, ’n inwoner se werknemers aangerand. Misdadigers vlug gereeld na dié spruit, waar hulle dan deur die stormwatersloot en bosse ontsnap. Die bosse beskadig ook die sement van die stormwatersloot en verskeie bome het al weens swaar reën omgeval en die spruit se vloei belemmer.

“Die Oos-Moot-tak het die gemeenskap genader om met die skoonmaakprojek te help en meer as 60 inwoners het deur die loop van die dag kom hand bysit. Ons is baie dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning – sonder hulle bydrae sou ons niks kon vermag nie. Ons is ook dankbaar vir AfriForum se Moot-Sentraal-tak, vir hul bystand met die projek,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Die tak het groot waardering vir raadslid Frans Smit, wat met Tshwane Waste Management gereël het om ’n groot span te stuur om op die dag te kom help.

Verskeie ondernemings het die projek geborg:

  • Frogfoot Network
  • Vox Telecom
  • Totiusdal Link Apteek
  • V&S Cat Hire
  • SVM Tool Hire
  • Talisman Hire Silverton
  • Pest Control Experts

Hierdie is reeds die vierde keer wat die Oos-Moot-tak ’n skoonmaak-aksie in die omgewing se spruite aanpak.

Soortgelyke plasings