| |

Steynsrus-tak skenk AfriForum-vullisdromme as deel van #Onsdorp-projek

AfriForum se Steynsrus-tak het vier vullisdromme geskenk en op verskillende plekke in dié dorp geplaas as deel van AfriForum se #Onsdorp-projek. Die doel van dié skenking is om netheid in Steynsrus te bevorder. 

Die vullisdromme is geplaas by die OVK, Steynsrus Algemene Handelaar en Huis Onze Rust-ouetehuis. ’n Vyfde AfriForum-drom sal binnekort ook ’n strategiese staanplek in dié dorp kry.

Volgens Ella Marx, Steynsrus-takvoorsitter, is die aksie aangepak om netheid in die dorp te verbeter en sodoende ’n skoon, welkome omgewing te skep. Die besighede en tehuis waar die dromme geplaas is, neem verantwoordelik vir die AfriForum-vullisdromme en stoor dit snags om te verseker dat dit nie gesteel word nie. “Op dié manier maak ons ’n positiewe verskil in ons dorp. Al is dit iets kleins, soos om vier vullisdromme te voorsien, maak dit steeds ’n merkbare verskil in mense se lewens.”

Die tak het ook onlangs ’n noodwaterpunt opgerig waarby inwoners, in geval van watertekorte, water kan tap. Daarbenewens maak die tak se aktiewe buurtwag seker dat veiligheid in die dorp opgeskerp word. “Ons is trots op die verskil wat ons kan maak in ons dorp en sal aanhou om projekte soos dié aan te pak. Ons moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by die Steynsrus-tak sodat ons selfs meer soortgelyke aksies kan takel,” sluit Marx af.

Kontak Ella Marx by 083 765 1301 om by dié tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings