|

Venterspos het ná vyf weke weer krag te danke aan volgehoue druk deur AfriForum

Die AfriForum-tak in Westonaria het die afgelope tyd volgehoue druk toegepas op Eskom om krag na Venterspos te herstel ná die area reeds sedert 12 Augustus sonder krag sit. Kragtoevoer is as gevolg van vandalisme aan die substasie se kragpale belemmer. Die krag in Venterspos het op 16 September omstreeks 17:30 weer aangekom.

Die kragpale se stutte is gesteel en as skrootmetaal verkoop en aangesien daar nie meer stutte was om die pale staande te hou nie het ’n sterk stormwind vyf van die groot pale omgewaai.

Die AfriForum-tak het reeds van 12 Augustus af druk toegepas op Eskom en Wes-Rand Plaaslike Munisipaliteit om hulle te kry om die kragtoevoer te herstel. Op 26 Augustus het die AfriForum-tak Eskom op terme geplaas waarna Eskom en die Wes-Rand Plaaslike Munisipaliteit besluit het om ’n nuwe kraglyn na Venterspos aan te lê. ’n Skedule is aan AfriForum deurgegee en ná AfriForum weer ’n brief aan Eskom gestuur het op 13 September is die krag uiteindelik op 16 September ten volle herstel.

Elektrisiteit is ’n belangrike basiese munisipale diens wat plaaslike regerings verplig is om te voorsien. Een van die oogmerke van plaaslike regering, volgens die Grondwet, is die voorsiening van dienste aan gemeenskappe op ’n volhoubare manier.

“Die Venterspos-gemeenskap het groot finansiële verliese gely om kragopwekkers aan te koop en ondernemings het ook in hierdie tyd swaargekry. Dit is tyd dat daar streng opgetree word teen vandale wat infrastruktuur beskadig,” sê Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Soortgelyke plasings