|

AfriForum se Elliot-tak maak planne vir skoner dorp

Die AfriForum-tak in Elliot het op 16 Mei in samewerking met Herman Coetzee, stigter van die We Love Somerset-projek, ’n gemeenskapsvergadering gehou oor hoe om die dorp se netheid te bevorder.

Coetzee het in die vergadering uitgebrei oor die uitdagings in Elliot en inwoners se hulpeloosheid. Verder het hy verduidelik hoe die We Love Somerset-projek in Somerset-Oos begin het en waar die projek tans staan. Hy wil dieselfde projek in samewerking met onder meer AfriForum in Elliot aanpak. Die model wat gevolg kan word sluit in komposvorming, die hergebruik van materiale soos plastieksakke, en ’n plaaslike gemeenskapskoonmaakprojek.

Coetzee verduidelik ook dat die gemeenskap as ’n eenheid moet saamwerk. Hy gebruik die voorbeeld van ’n vliegtuig wat as parte nie alleen kan vlieg nie, maar wanneer dit saamwerk dan vorm die parte ’n vliegtuig wat wel kan vlieg.

Tydens die vergadering is daar besluit om met opvoeding by skole te begin en dan uit te brei na die gemeenskap om netheid en ’n higiëniese leefstyl aan te moedig. Kinders sal ook by die projek kan betrokke raak deur plastiek op te tel en dan ’n beloning daarvoor te kry, byvoorbeeld ’n blikkie vis vir ’n sekere aantal sakke vol plastiek. Daar word beplan om spanne bymekaar te kry wat weekliks die dorp skoonmaak wat dan uiteindelik ’n volhoubare skoonmaakmaakprojek tot gevolg sal hê. Die hoop is dat die plaaslike munisipaliteit op die strategie sal inkoop om die dorp skoon te maak.

SMS “Elliot” na 45351 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings