|

AfriForum rig noodwaterpunt in Vryheid op

Die AfriForum-tak in Vryheid het ’n noodwaterpunt opgerig om die gemeenskap tydens wateronderbrekings van water te voorsien. Die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit laat inwoners gereeld in die steek met watervoorsiening as gevolg van pompe en waterpype wat breek.

“Gereelde wateronderbrekings het ons gedwing om ’n noodwaterpunt op te rig om ons gemeenskap by te staan tydens wateronderbrekings. Ons kan nie verstaan dat hierdie pompe gereeld onklaar raak nie. AfriForum het hulp aan die munisipaliteit gebied met geen sukses nie en daarom het ons hierdie waterpunt opgerig,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.

“Ons sien daagliks hoe die infrastruktuur in KwaZulu-Natal agteruitgaan en AfriForum is teleurgesteld dat die munisipaliteit nie die gemeenskap se hulp aanvaar nie. Ons kan probleme saam oplos. So nie, sal ons AfriForum-takke self inspring en ander moontlikhede beskikbaar stel,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum se Vryheid-tak bedank graag die volgende borge wat gehelp het om hierdie projek moontlik te maak: TWK, Vryheid Build It, Vryheid Afrimat en Hein Schonborn.

Raak vandag nog by jóú plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings