|

VERVOLGING INGESTEL NÁ JONG VERLOOFDES SE TRAGIESE DOOD IN MOTORONGELUK

Die Nasionale Vervolgingsgesag het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in kennis gestel dat hulle die bestuurder van die motorvoertuig wat gebots het met die motor waarin Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25) op 23 Desember 2017 gery het, op ’n klag van moord gaan vervolg. Ursula Kors, Coen se ma, het AfriForum hieroor genader nadat sy navraag gedoen het oor die stand van die vervolging en in kennis gestel is dat die dossier vermis word.

Die beskuldigde moet nou vir die eerste keer op 29 April 2021 in die Pretoriase Landdroshof verskyn. Die dossier teen die beskuldigde, wat tydens die ongeluk vermoedelik sowel dronk as bedwelmd was, het na bewering by die Silverton-polisiestasie verlore geraak. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het baie nou met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak saamgewerk, asook met sers. Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak, om die dossier weer saam te stel sodat die beskuldigde vervolg kon word.Coen en Kennedy het kort ná hul verlowing met die N4 van Witrivier na Pretoria teruggekeer. Die beskuldigde het in die teenoorgestelde rigting gery, beheer oor sy voertuig verloor en met hulle motor gebots. Albei jongmense is op slag dood. Die beskuldigde het geringe beserings opgedoen en volgens ooggetuies met polisielede op die toneel geskerts.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid is dankbaar vir kol. Everson en sers. Ferreira se harde werk en samewerking om te verseker dat geregtigheid geskied. Dit is egter betreurenswaardig dat dossiere só maklik kan verdwyn en dat die beskuldigde skotvry daarvan sou afkom as ons nie ingegryp het nie – dít nadat hy na bewering twee jongmense se dood veroorsaak het,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Ursula Kors en Desmond Coen, Ruan se broer, is die familie dankbaar dat die saak uiteindelik voor die hof gaan dien. “Ek wil ons Hemelse Vader en ook alle partye betrokke uit die diepte van ons harte bedank. Danksy AfriForum en die ondersoekspan se moeite, en hul harde werk vir amper meer as drie jaar, is die nuwe dossier nou saamgestel. Hul toegewydheid en deursettingsvermoë het tot gevolg dat die beskuldigde nou uiteindelik moet verantwoording doen vir twee kosbare jong lewens wat hy van ons gesteel het. Ons het nie woorde om ons dankbaarheid aan almal betrokke te betuig nie, want wat eens onmoontlik gelyk het, het nou uiteindelik moontlik geword,” sê Ursula Kors.

Soortgelyke plasings