| |

Traumakamer geopen danksy ruim bydrae deur AfriForum se Kamieskroon-tak

Die AfriForum-tak in Kamieskroon het gehelp om ’n traumakamer, waar slagoffers van geweldsmisdaad in ’n skoon en veilige omgewing gekonsulteer kan word, op die been te bring. Dié kamer is op 31 November 2021 by die SAPD in Kamieskroon geopen en sal deur SAPD-lede en lede van die plaaslike GPF gebruik word.

Die polisiekantoor vra reeds vir ’n klompie jare dat die munisipaliteit só ’n traumakamer in hulle begroting insluit, maar daar het tot op hede niks van gekom nie. Daarom het AfriForum se Kamieskroon-tak van hulle takfondse beskikbaar gestel vir die bou en inrig van hierdie traumakamer en toiletgeriewe.

Gideon van Lill, voorsitter van AfriForum se Kamieskroon-tak, het self moue opgerol en gehelp met die houtwerk en installering van die deure en houtstrukture in die kamer. Hierdie inisiatief is van kardinale belang in die stryd teen geweldsmisdaad en ’n positiewe stap in die regte rigting.

Die opening is deur verskeie rolspelers bygewoon en almal was dit eens dat die traumakamer ’n uitstekende inisiatief is en dat die rolspelers wat die opening bygewoon het ook vorentoe hande moet vat om slagoffers van geweldsmisdade saam te ondersteun.

Johan Kloppers van AfriForum se Traumaeenheid, het die opening bygewoon en tydens die opening gesê dat hierdie inisiatief kosbaar en baie nodig is om slagoffers van geweldsmisdaad weer daardie hoop in die samelewing te gee wat hulle verloor het tydens die trauma wat hulle beleef het.

“Seerkry is nie ’n kompetisie nie en trauma ken nie kleur, geslag of ouderdom nie; elkeen hanteer en reageer anders op trauma. Dié traumakamer gaan ’n veilige omgewing bied vir elkeen wat deur trauma geraak word om deur hul seer te werk,” sê Kloppers.

AfriForum wil graag ook hande vat met die SAPD, GPF en die Kamieskroon- en omliggende gemeenskappe, betrokke wees met opleiding en om daar te wees vir die gemeenskap.

Soortgelyke plasings