|

AfriForum ondersteun aanvalslagoffer tydens hofsaak

AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid het Meisie Reyneke op 26 November 2019 in die hof in Fochville ondersteun nadat Reyneke en haar man, Lammie, in 2018 by Kolgansdam buite Fochville aangeval is terwyl hulle gekamp het. Lammie het tydens die voorval gesterf.

Die egpaar het by die dam gekamp toe twee verdagtes hul tent op 13 Oktober 2018 binnegekom en hulle aangeval het. Meisie is met ’n hamer geslaan en met ’n skroewedraaier gesteek terwyl Lammie ook met ’n skroewedraaier gesteek is en met ’n klip oor die kop geslaan is.

Een van die twee verdagtes het verskyn op aanklagte van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die ander slagoffer is oorlede voor hy in die hof kon verskyn. Die saak is uitgestel tot 12 Februarie 2020.

“AfriForum se traumabeamptes verstaan dat elke slagoffer se trauma en behoeftes verskil en daarom ondersteun ons slagoffers van geweldsmisdaad op verskeie maniere. Ons as beamptes help die slagoffers nie net met wetlike aspekte nie, maar staan hulle ook deurentyd by sodat hulle weer vorentoe kan kyk en hoop vir die toekoms het,” sê Magda Coetzee, ondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid is in 2015 gestig om traumaslagoffers te ondersteun. Die eenheid het vanjaar reeds tydens 104 traumatiese voorvalle 220 volwassenes en 47 kinders bygestaan. Dié eenheid help slagoffers van plaasaanvalle en gewapende rooftogte; en ondersteun mense wat deur selfdood geraak word of gemolesteer of verkrag is. Die eenheid het vanjaar ondersteuning gebied tydens 11 plaasmoorde, 58 plaasaanvalle, nege moorde, ses molesterings/verkragtings, drie selfdoodgevalle, 11 gewapende rooftogte en ses ander gevalle waar slagoffers ondersteuning nodig gehad het. Altesaam 35 van hierdie gevalle was in Gauteng, 28 in Noordwes, agt in Limpopo, sewe in Mpumalanga, vyf in die Vrystaat, sewe in KwaZulu-Natal, ses in die Oos-Kaap, vier in die Noord-Kaap en vier in die Wes-Kaap.

Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, ondersteuning tydens hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Die Trauma-ondersteuningseenheid het ook ’n fonds gestig om slagoffers te ondersteun. Maak ’n skenking aan die fonds of stuur ’n e-pos na trauma@afriforum.co.za vir meer inligting.

Begunstigde: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Tak: Centurion
Takkode: 261 550
Verwysing: Trauma-ondersteuningsfonds

Soortgelyke plasings