|

AFRIFORUM WOON OPENBARE VERHOOR BY OOR ONTEIENING SONDER VERGOEDING

Verteenwoordigers van die burgerregteorganisasie AfriForum het die openbare verhoor oor die wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet in Saldanha op 30 Oktober 2020 bygewoon. Deon de Jager, AfriForum se hoof vir Gemeenskapstrukture vir die suidstreek, het by dié verhoor gepraat. AfriForum het beklemtoon dat die ANC se najaging van onteiening sonder vergoeding niks meer as ’n politieke spel is nie.

’n Verskeidenheid voorbeelde is voorgehou van korrupsie wat pogings tot grondhervorming in die wiele ry, veral die feit dat slegs 6,3% van grond wat die staat aangekoop het tot op hede in privaat eienaarskap oorgedra is. Voorts het meer as 90% van mense wat grondeise ingedien het, aangedui dat hulle nie daarin belang stel om landbougrond te besit nie en eerder geld as vergoeding verkies. Die regering het sélf ook toegegee dat meer as 90% van plase wat aan swart Suid-Afrikaners toegeken is, gefaal het en gewoonlik baie gou tot bestaansboerderye of plakkerskampe verword het.

AfriForum is van mening dat die “honger vir grond” grotendeels ’n mite is, veral wat betref die aanvraag na landelike grond om boere te word omdat ongeveer 82% van grondeise vir stedelike eerder as landelike grond is.

“Die regering se magspel oor grond kan nie sommerso aanvaar word nie, aangesien dit tot nadeel van almal in die land is. Eiendomsreg is bevorderlik vir die skep van ’n voorspoedige samelewing en daarom sal AfriForum aanhou om hierdie vernietigende beleid teen te staan,” sluit De Jager af.

Soortgelyke plasings