|

Toekoms van Afrikaans in die hande van die sprekers, nie minister Nzimande nie

Dat die omstrede taalbeleidraamwerk vir tersiêre instellings steeds in Januarie 2022 in werking tree, is geen verrassing vir AfriForum nie, aangesien dit reeds duidelik was met die publikasie daarvan in Die Staatskoerant in 2020. Wat egter die gevolge daarvan gaan wees, sal die tyd leer. AfriForum sal die implementering daarvan moniteer om te verseker dat Afrikaanse studente se taalregte so ver as moontlik beskerm word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, was minister Blade Nzimande se bewerings dat daar nog oor die inwerkingtreding van die beleid en die inheemse status van Afrikaans, San-, Khoi- en Namatale onderhandel kan word, bloot ’n poging van die minister om sy ideologiese agenda te verbloem, net soos sy belaglike bewerings dat mense wat vir Afrikaanse taalregte opstaan, rassiste is.

“Voordat die beleidsraamwerk gepromulgeer is, was daar geleentheid vir insette en kommentaar daarop. Die feite oor die inheemse status van Afrikaans en ander tale is toe reeds onder die minister se aandag gebring, maar dit is bloot in die finale weergawe geïgnoreer. Die regering is bekend daarvoor dat hulle historiese feite verdraai en ignoreer om hulle ideologiese agenda te pas en om te verwag dat daar anders met feite oor taal gehandel sal word, sal naïef wees,” voeg Bailey by.

“Die realiteit is dat die toekoms van alle tale in die land in die sprekers se eie hande is. Ongeag wat minister Nzimande beweer, kwalifiseer studente in Afrikaans aan instellings soos Sol-Tech en Akademia, het Ilze Aäron vandeesmaand ’n BEd-graad ontvang wat sy deur middel van Suid-Afrikaanse Gebaretaal behaal het, het die eerste Khoikhoi-leerboek pas die lig gesien en het die eerste boek in N|uu vanjaar uit Ouma Katrina Esau se pen verskyn. Die verantwoordelikheid berus by die sprekers van tale om dit lewendig te hou en dinamies uit te bou. As die regering nie ruimte daarvoor skep nie, moet die burgerlike gemeenskap self wyses vind waarop dit gedoen kan word,” sê sy.

AfriForum het in die verlede nie geskroom om plaaslik en internasionaal stappe te doen om taalregte te beskerm en bevorder nie en sal hierdie aksies ook in die toekoms voortsit.

Bailey het ’n beroep op die sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale gedoen om hulle stemme ten gunste van moedertaalonderrig en taalregte te laat hoor.

Soortgelyke plasings