|

AfriForum en Indonsa Yesizwe gedenk koning Dinuzulu kaCetshwayo se dood 110 jaar gelede

AfriForum en die Zoeloe-koninkryk se ideesentrum Indonsa Yesizwe het gister die nalatenskap van koning Dinuzulu kaCetshwayo gedenk deur ’n begraafplaas, waar ’n aantal van sy direkte familielede begrawe is, saam skoon te maak. Personeel van die KwaZulu-Natal Museum en die KwaZulu-Natal Argief het ook aan dié projek op die plaas Rietfontein, in die Middelburg-distrik, Mpumalanga, deelgeneem. Koning Dinuzulu het op 18 Oktober 1913, gister presies 110 jaar gelede, sy laaste asem op dié plaas uitgeblaas.

Die Natalse koloniale owerheid het dié Zoeloe-koning tronkstraf opgelê ná die Bambata-rebellie van 1906. Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is koning Dinuzulu egter uit die gevangenis op Newcastle vrygelaat en toegelaat om op die plaas Rietfontein te vestig. Die toenmalige premier van die Unie, genl. Louis Botha, het ’n sleutelrol in die vrylating van die koning gespeel. Hy was welbekend aan Botha omdat Botha as ’n jongman deel van die kommando van kmdt. Lucas Meijer was wat koning Dinuzulu bygestaan het tydens die oorwinning oor die Mandlakazi, ’n Zoeloe-faksie, tydens die Slag van Spookberg (Tshaneni) in 1884.

“Gister se gesamentlike optrede is ’n baie belangrike gebeurtenis om die historiese verhouding tussen die Afrikaner- en Zoeloevolke te laat herleef. Dié verhouding is in 1840 verseël toe koning Mpande die Afrikaners uitgenooi het om te help met die vernuwing van die Zoeloe-koninkryk ná die heerskappy van koning Dingane. Oor die jare heen het die Afrikaners ’n soortgelyke rol gespeel deur koning Dinuzulu by te staan tydens sy verskeie oorloë van die 1880’s. Deur ’n gesamentlike poging van AfriForum en Indonsa Yesizwe is die grafte van koning Dinuzulu se kinders gister skoongemaak. Dit is voorwaar ’n dag van versoening,” sê prof. Musa Xulu, stigter van Indonsa Yesizwe.

“Goeie verhoudings tussen kultuurgemeenskappe, wat gegrond is op wedersydse erkenning en respek, is noodsaaklik om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die kinders van al die kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika te verseker. Daar is verskeie voorbeelde van goeie verhoudings tussen kultuurgemeenskappe in die geskiedenis. Ons moet ag slaan op hierdie wysheid uit die verlede en as die huidige geslag die besluit neem om in hierdie opsig in ons voorouers se voetspore te volg. Gesamentlike projekte vorm deel van AfriForum se poging om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat mekaar kan ondersteun in ons strewe om voluit as kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te lewe,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Soortgelyke plasings