|

Thabazimbi-tak vul slaggate op

AfriForum se Thabazimbi-tak het op 9 Junie in samewerking met die plaaslike gemeenskap slaggate reg oor die dorp opgevul. Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum se nasionale slaggatherstelprojek. Die besluit is geneem om op die pad te fokus wat na die Kwaggasvlakte-kleinhoewe en die Marakele-natuurreservaat lei. Dié pad het ’n baie skerp draai – wat in die volksmond as dooiemansdraai bekendstaan – en is deurtrek met slaggate.

Die gemeenskap het Vrydagoggend saam met AfriForum se Thabazimbi-tak aan die werk gespring en begin om hierdie gevaarlike slaggate op te vul. Diegene wat nie fisies self kon help nie het finansiële bydraes gelewer. Nagenoeg 196 sakke teer is gebruik en dié pad lyk nou weer splinternuut. Die tak beplan ook om ander dele van die dorp wat aandag nodig het binnekort te takel.

“Dit is fantasties om saam met so ’n dinamiese gemeenskap te werk. Daar was verskeie rolspelers wat gehelp het om dié dag moontlik te maak. Dit is ’n goeie voorbeeld van hoe AfriForum die mag weer in die gemeenskap se hande terugsit,” sê Cee-J van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg.

Soortgelyke plasings