|

AfriForum behaal belangrike oorwinning vir Afrikaans

Pas ná Internasionale Moedertaaldag het die burgerregteorganisasie AfriForum ’n belangrike oorwinning vir Afrikaans behaal wat die registrasie van ’n sielkundestudent as intern deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) behels. AfriForum het verlede week aangekondig dat die organisasie Du Toit Genis bystaan met ’n regsgeding teen dié raad, nadat sy aansoek om registrasie geweier is bloot omdat sy honneursgraadsertifikaat in Afrikaans is. Die raad het nou wel die sertifikaat aanvaar en hom uiteindelik geregistreer.

Genis is tans besig met sy meestersgraad in Sielkunde. Ten einde sy studies te kan voltooi, moes hy by die raad as intern sielkundige registreer en onder meer ’n kopie van die sertifikaat wat bevestig dat hy in 2018 ’n honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal het, indien. ’n Verteenwoordiger van die raad het hom egter in kennis gestel dat die registrasieproses nie kan voortgaan nie, aangesien die sertifikaat in Afrikaans is. Sy herhaalde vertoë om heroorweging het op dowe ore geval en hy het AfriForum om hulp genader. Aangesien ’n prokureursbrief aan die raad van AfriForum se regsverteenwoordiger, Hurter Spies Ingelyf, geen resultate opgelewer het nie, is ’n semidringende hofaansoek teen die RGBSA ingedien. Die regsverteenwoordiger van die raad het nou skriftelik bevestig dat Genis geregistreer is. Die saak is dus teruggetrek.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit onaanvaarbaar dat enige student se toekoms op die spel geplaas word omdat ’n amptelike instelling weier om een van die land se landstale te erken. “Ons is dankbaar dat die saak opgelos kon word, maar is bekommerd dat ’n klimaat bestaan waarbinne ’n amptenaar veilig voel om so ’n onwettige besluit te neem. Ons waardeer dat Genis nie die maklike weg gevolg het om sy sertifikaat te laat vertaal nie, maar bereid was om op ’n waardige wyse binne die raamwerk van die wet ’n standpunt in te neem vir Afrikaans en vir alle ander studente wat hulle in ’n soortgelyke posisie mag bevind,” sê sy.

Willie Spies van Hurter Spies Ingelyf het verklaar dat hierdie gebeure weer eens ’n bewys daarvan is dat taalgemeenskappe burgerregtewaghonde nodig het om voortdurend in te tree vir hulle taalregte. “In dié opsig is AfriForum ’n lewensnoodsaaklike rolspeler vir die instandhouding van ’n gesonde samelewingsorde,” voeg hy by.

Genis het AfriForum en Hurter Spies Ingelyf bedank vir die hulp wat hy ontvang het, asook die publiek en media vir hulle ondersteuning. “Dit is lekker om te weet dat daar organisasies en mense is wat bereid is om die pad te stap saam met iemand wat nie die stryd alleen kan aanpak nie. Ek hoop dat die gebeure as motivering en bewusmaking vir ander mense met soortgelyke probleme kan dien sodat hulle ook sal opstaan vir hulle regte,” sê Genis.

Enige ander persoon wat soortgelyke diskriminasie ervaar, is welkom om AfriForum te nader by afriforum@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings