|

Springs-tak neem eendedam onder hul vlerk

AfriForum se Springs-tak het die afgelope naweek besluit om self in te gryp om hul dorp weer netjies te maak. Die tak het die boorgatpomp by die eendedam wat onklaar geraak het laat herstel.

Hierdie boorgat sal ook die Springs-tak in staat stel om dit as noodwaterpunt te gebruik tydens ’n watertekort of wanneer water besmet en ongeskik vir menslike gebruik is, soos met die uitbreking van cholera in dele van die land.

Dit volg nadat die gebrek aan instandhouding deur die Ekurhuleni-munisipaliteit parke in Springs verwaarloos en gevaarlik gelaat het. Die eendedam in Springs is die afgelope tyd as een van die tak se volhoubare projekte instandgehou. Die park se gras word ook gereeld gesny en rommel word opgetel. Die elektrisiteitstoevoer en beligting van die park is ook herstel en die eende word gereeld gevoer.

“Hierdie tak doen uitstekende werk en dit is wonderlik om die groot verskil te sien wat hulle in hierdie gemeenskap maak. Danksy die tak wat besluit het om in te gryp, is die eendedam steeds ’n plek wat die gemeenskap van Springs op trots kan wees,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Sodra ’n gemeenskap saamstaan, kan ’n mens die verskil dadelik opmerk. Die eendedam lyk nie net mooier nie, maar dit skep ook hoop vir ’n gemeenskap wat gebuk gaan onder ondoeltreffende munisipale dienslewering. Ons hoop aksies soos dié sal die inwoners aanspoor om by AfriForum se Springs-tak betrokke te raak of aan te sluit om sodoende ’n verskil te maak,” sluit Ferreira af.

Soortgelyke plasings